On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

International

Wetenskaplikes ontwerp stelsel om drinkwater wêreldwyd te verbeter

───   13:23 Thu, 04 Apr 2024

Wetenskaplikes ontwerp stelsel om drinkwater wêreldwyd te verbeter | News Article
Foto: Liz Martin/Unsplash

“Hierdie tegnologie kan waterbronne wat aan gemeenskappe beskikbaar is, verder uitbrei as tradisionele waterbronne.”

Wetenskaplikes het ’n nuwe sonkragstelsel ontwikkel om soutwater in vars drinkwater te omskep, wat die risiko van wateroordraagbare siektes soos cholera kan verminder. Toetse op die platteland toon die proses is meer as 20% goedkoper as tradisionele metodes en kan wêreldwyd gebruik word.

Die navorsers van King's College in Londen, in samewerking met MIT en die Helmholtz Institute for Renewable Energy Systems, het ’n stelsel ontwerp wat konsekwente vlakke van water met behulp van sonkrag produseer. Dit is onlangs in Nature Water gepubliseer.

Vars drinkwater op afgeleë gebiede is wêreldwyd ’n probleem. Foto: Pixabay 

Deur elektrodialise word die sout geskei deur die gebruik van gespesialiseerde membrane. Die druk en tempo waarteen soutwater deur die stelsel vloei, word aangepas om te pas by die hoeveelheid sonskyn.

Hulle het data versamel van die dorpie Chelleru naby Hyderabad in Indië en dit toegepas op ’n dorpie in die Amerikaanse deelstaat Nieu-Mexiko. Hulle het 10 m³, of verskeie baddens se inhoud, in vars drinkwater omgeskakel. Dit was genoeg vir 3 000 mense per dag. Die proses werk ongeag of dit bewolk of sonskyn is.  

Dr. Wei He meen die stelsel hou groot voordele in. Foto: King's College in London

Dr. Wei He van die Departement Ingenieurswese aan King’s College in Londen glo die nuwe tegnologie hou groot voordele vir landelike gemeenskappe in. Dit verhoog die aanbod van drinkwater, maar het ook gesondheidsvoordele.

“Deur ’n goedkoop, ekovriendelike alternatief aan te bied stel ons tegnologie gemeenskappe in staat om alternatiewe waterbronne (soos diep akwifere of soutwater) te ontgin om waterskaarsste en besoedeling in tradisionele watervoorrade die hoof te bied," sê He.

“Hierdie tegnologie kan waterbronne wat aan gemeenskappe beskikbaar is, verder uitbrei as tradisionele waterbronne en deur water van onbesmette soutbronne te voorsien, kan dit help om waterskaarsste of noodgevalle te bekamp wanneer gewone watertoevoer ontwrig word, byvoorbeeld soos die onlangse cholerauitbrekings in Zambië.”

Landelike gebiede wêreldwyd sukkel met watervoorsiening. Foto: iStock

Meer as 1,6 miljard plattelanders wêreldwyd beleef ’n waterskaarsste en is afhanklik van grondwater wat diep onder die oppervlak is.

Wêreldwyd is 56% van grondwater egter te sout en nie geskik vir menslike gebruik nie. Hierdie probleem is veral algemeen in Indië, waar 60% van die land ondrinkbare soutwater het. 

Tradisionele ontsoutingstegnologie het of staatgemaak op duur batterye in buite netwerkstelsels of ’n roosterstelsel om die krag te verskaf wat nodig is om sout uit die water te verwyder. In ontwikkelende lande se landelike gebiede kan netwerkinfrastruktuur egter onbetroubaar wees en is grootliks afhanklik van fossielbrandstowwe.

Die stelsel het ook die potensiaal om buite ontwikkelende gebiede gebruik te word, veral in landbou waar klimaatsverandering lei tot onstabiele reserwes van vars water vir besproeiing. “Die volgende stap vir ons is om hierdie laekoste-tegnologie toe te pas op ander sektore, insluitend afvalwaterbehandeling,” sê He. 

Lees meer

OFM Nuus dg/mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.