Local News
Seun val 40 meter na sy dood─── CHRISTAL-LIZE MULLER 09:24 Sun, 31 Jan 2016
Die gruisgat waar die seun geval het/Foto verskaf
Bloemfontein -Nooddienswerkers van ER24 in samewerking met lede van die Botshabelo-brandweer het gistermiddag onder baie moeilike omstandighede probeer om ‘n jong seun, wat sowat 40 meter ver in ‘n gruisgat ingeval het, te bereik.
ER24-woordvoerder, Werner Vermaak, sê die seun, vermoedelik 16, het op ‘n rotslysie gelê. Hy sê ‘n ooggetuie het gesien hoe die seun val en hulp is ontbied. Nooddienswerkers en brandweerlede het teen die rotswand afgeseil tot waar die seun gelê het. Hy is op die toneel dood verklaar. Vermaak sê dit was 'n goeie spanpoging.
Paramedici het op gespesialiseerde reddingswerkers van die brandweer staatgemaak om tot onder te kom waar die seun gelê het. “Daar is nie trappe of ‘n direkte pad wat afgaan na onder nie.”
Vermaak sê nog reddingspanne van die brandweer is ontbied om die lyk te verwyder.
Die oorsaak van die seun se dood is onbekend.
OFM-nuus
