On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Local News

Bloemfontein-verkragtings: Niemand nog aangekeer

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 14:17 Wed, 10 Feb 2016

Bloemfontein-verkragtings: Niemand nog aangekeer | News Article

Bloemfontein - Nog niemand is in hegtenis geneem in verband met die verkragting van drie vroue sedert Saterdag in Bloemfontein nie.


Polisiewoordvoerder, Chaka Marope, sê dit is steeds onduidelik of die voorvalle met mekaar verband hou.

Dit kom nadat ‘n 51-jarige vrou gisteroggend omstreeks 07:00 in ‘n gewapende huisroof in haar slaapkamer in Pellisier verkrag is. Marope sê die vrou en haar kinders was alleen tuis toe haar 53-jarige man, wat gaan draf het, deur drie onbekende mans voorgekeer is en na sy huis gedwing is. Terwyl die man met ‘n vuurwapen aangehou is en ‘n ander booswig deur die huis gegaan het op soek na items wat gevat kan word, het ‘n derde rower die vrou in haar slaapkamer verkrag. Marope sê die rowers het met ‘n onbekende bedrag geld, selfone en die egpaar se motorsleutels te voet op die vlug geslaan.

Volgens hom is ‘n 50-jarige vrou wat op pad werk toe was Maandagoggend in Memoriamweg deur ‘n onbekende man verkrag. Die vrou het pas uit ‘n taxi geklim toe ‘n man haar voorgekeer en met ‘n skerp voorwerp na ‘n afgeleë plek by ‘n treinspoor gedwing het.

Marope sê ‘n 33-jarige vrou is Saterdag in die vroeë oggendure in haar slaapkamer in Genl. De Wetrylaan verkrag, terwyl haar twee seuns, onderskeidelik 2 en 5, in ‘n ander kamer in die huis geslaap het. Die vrou se man was nie tuis nie. Marope sê die booswig het vermoedelik toegang tot die huis deur ‘n gebreekte badkamerruit verkry. Hy sê rekenaarhardeware, juwele en twee selfone is gebuit. Die rower het vermoedelik te voet gevlug.

Die polisieondersoek duur voort.    

OFM-nuus



@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.