On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Local News

Sewe rowers steeds soek ná Clocolan-plaasroof

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 06:14 Wed, 20 Jul 2016

Sewe rowers steeds soek ná Clocolan-plaasroof | News Article
Gallo Images

Clocolan - Die polisie in die Vrystaat soek steeds na sewe rowers wat ‘n boer van die Clocolan-distrik en sy gesin in hul plaashuis vasgebind en beroof het.

Vier rowers, waarvan twee gewapen was, het Carl du Randt, sy vrou, Lydia, en hul agtjarige seun, Carl, Sondag omstreeks 18:00 in hul motorhuis ingewag. 

Die rowers het ’n wapen op Du Randt gerig en sy hande met polisieboeie agter sy rug vasgemaak.  Die booswigte, waarvan drie klapmusse aangehad het, het geld geëis. Du Rant is gedwing om die kluis in die egpaar se slaapkamer oop te maak. 

Geld en ‘n jaggeweer is gebuit.  Die gesin is in die studeerkamer vasgebind, waarna die vier rowers en drie van hul makkers wat buite gewag het, huisware op Du Rant se bakkie gelaai en weggejaag het. 

Du Randt sê hy het die hele tyd kalm gebly en gedoen wat hulle van hom vra.

" ‘n Mens word onkant gevang en kan nie 24 uur per dag daarop voorbereid wees nie,  maar dit is belangrik om kalm te bly," sê Du Randt. 

Carl Jr. kon homself loswikkel en het op ‘n tweerigtingradio hulp ontbied. Van die Du Randt’s se bure het die rowers agternagesit. 

Du Randt sê die boere was kort op die rowers se hakke, waarna hulle van die bakkie afgespring het en  weggehardloop het. 

Die rowers het vermoedelik deur die leë Caledonrivier na Lesotho ontsnap. Al die gesteelde goedere is teruggevind, behalwe die geld. 

Die polisie werk nou saam met owerhede in Lesotho om na die rowers te soek. 

OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.