On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

Local News

Burgerlugvaartowerheid ondersoek ongeluk waarin vierjarige ernstig beseer is

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 09:16 Wed, 26 Oct 2016

Burgerlugvaartowerheid ondersoek ongeluk waarin vierjarige ernstig beseer is | News Article

Rustenburg - Die Burgerlugvaartowerheid sal die ondersoek hanteer waarin drie mense, insluitend 'n vierjarige dogtertjie, gisteroggend ernstig beseer is.


'n Lugballonmandjie het in 'n noodlanding naby die Buffelspoortdam in Noordwes op die grond gesleep en teen 'n boom gebots. Bill Harrop, eienaar van die Bill Harrop's Original Balloon Safaris, sê in die stadium is daar 'n vermoede dat 'n onvoorspelde sterk wind veroorsaak het dat die vlieënier van die lugballon noodgedwonge moes land. Hy sê die wind was gister ses keer sterker as die weervoorspelling se skatting.      

"Die wind het 'n baie wye area gedek. Ander vlieëniers het ook gevlieg daardie oggend en het dieselfde toestande ervaar. Hulle was gelukkig genoeg om veilig te kon land," voeg Harrop by.

Harrop sê die ongeluk kon nie vermy word nie en dit is die eerste ongeluk waarby een van sy lugballone betrokke is. Hy sê hulle het al sowat 100 000 passasiers vervoer.


"Ons kyk tans waar ons kan help en wil duidelikheid oor die kwessie kry. Eerlikwaar dink ek nie sou enige ander vlieënier beter gevaar het as ons vlieënier in daardie omstandighede op die gegewe oggend nie," sê Harrop.

Die beseerde dogtertjie is met 'n Netcare2-helikopter na 'n hospitaal in Johannesburg vervoer. Twee ander passasiers is deur paramedici van Hartbeespoort EMS gestabiliseer en na 'n nabygeleë hospitaal vervoer.

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.