On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Offbeat

Hommelbye deel kennis, soos mense

───   09:25 Tue, 26 Mar 2024

Hommelbye deel kennis, soos mense | News Article
Hommelbye het bewys dat hulle in staat is om nie-natuurlike gedrag, soos toutrek en balle rol, sosiaal kan aanleer om belonings te bekom. Foto: Unsplash/Natalie Kinnear

“Die bevindinge lewer bewyse dat hommelbye in staat is tot sosiale leer en moontlik kulturele oordrag.”

Hommelbye kan ander bye oplei en komplekse, nuwe gedrag leer. In ’n artikel wat in Nature gepubliseer is, word aangevoer dat mense en bye kennis op presies dieselfde manier deel.

In dié studie het ’n by, wat geleer is om ’n legkaart vir ’n suikerbeloning te voltooi, ander bye opgelei om dieselfde taak te voltooi. Dit bewys dat bye sekere gedrag sosiaal kan aanleer op ’n hoër vlak van kompleksiteit wat ons voorheen vermoed het uniek aan mense en ons voorvaders is.

Andy Corbley van die Good News Network berig kultuur is ’n woord wat nogal baie rondgegooi word, maar aan die wortel daarvan is die aanwysing van ’n bepaalde gedrag wat sosiaal aangeleer is en met verloop van tyd voortduur.

Is insekte selfs slimmer as wat ons dink? Foto: Unsplash/Steve Smith

Toenemende bewyse dui daarop dat dierekultuur, soos menslike kultuur, kumulatief kan wees, met opeenvolgende gedrag wat voortbou op voriges. Menslike kumulatiewe kultuur behels gedrag wat so kompleks is dat dit buite die vermoë van enige individu is om dit onafhanklik gedurende hul leeftyd te ontdek.

Hierdie gedrag is egter nog nie by ’n ongewerwelde spesie gedemonstreer nie, wat algemeen beskou word as een van die laaste skakels van intelligente wesens se voedselketting.

’n Opgeleide by wat ’n demonstrasie lewer aan ’n waarnemerby. Foto: Queen Mary Universiteit van Londen

“Ek en jy is albei, biologies-gesproke, Afrika-ape, maar ek skryf dit op ’n skootrekenaar in Cornwallis, en jy lees dit dalk in Colombo, Caracas of Canberra,” skryf Alex Thorton, mede-outeur van die studie. “Dit weerspieël een van die merkwaardigste eienskappe van die menslike spesie – die progressiewe verbetering van vaardighede en tegnologie namate innovasie versprei en daarop voortgebou word.”

Hommelbye is egter uiters sosiale insekte, wat bewys het dat hulle in staat is om nienatuurlike gedrag, soos toutrek en balle rol, sosiaal aan te leer om belonings te bekom.

Alice Bridges, Lars Chittka, Alex Thorton en hul kollegas het ’n moeilike taak opgestel om te ondersoek of hommelbye in staat is om meer ingewikkelde gedrag van ander in die kolonie aan te leer.


Hulle het ’n tweestaplegkaartboks ontwerp waarin die bye eers deur ’n hindernis moet beweeg om ’n roterende deksel oop te maak om ’n suikerbeloning te openbaar. Lede van drie afsonderlike kolonies is 24 dae (’n aansienlike deel van ’n by se lewe) gegun om dit uit te werk, maar geen een kon dit uitpluis deur te leer en probeer nie.

Dit het egter ongeveer twee dae geduur om demonstrasiebye op te lei om die taak te voltooi, wat dikwels ’n beloning by die eerste stap vereis het. Onopgeleide bye het egter vinnig by die opgeleide bye geleer. Die bevindinge bewys dat hommelbye in staat is tot sosiale leer en moontlik kulturele oordrag.

OFM Nuus/Good News Network cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.