On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Liefde gee kwadrupleeg van Vanderbijlpark nuwe lewenslus

───   KAREN VAN DER BERG 15:45 Thu, 28 Mar 2024

Liefde gee kwadrupleeg van Vanderbijlpark nuwe lewenslus | News Article
Brandon Moolman en Megan van Schalkwyk is verloof. Foto verskaf

“Ons wou foto’s neem van die brug en ek het vir die pret van die brug afgespring.”

Die liefde maak alles rooskleuriger. 

So sê Brandon Moolman (28) van Vanderbijlpark wat breed glimlag oor die liefdesgeluk wat na sy kant toe gekom het. Brandon se nek is vier jaar gelede in ’n fratsongeluk gebreek en is hy van die nek af ondertoe verlam.

Maar onlangs het hy sy meisie, Megan van Schalkwyk (19), gevra om te trou. Sy het ja gesê. Nou wink ’n blink toekoms, hoop hy. Brandon se lewe het op 8 Augustus 2020 onherroeplik verander toe hy van ’n brug af in die Vaalrivier gespring het. “Ek en ’n klompie vriende was weg vir die naweek na ’n oord by Bothaville toe die Covid-19-regulasies verslap is. Ons wou foto’s neem van die brug en ek het vir die pret van die brug afgespring.”

Brandon Moolman ná die fratsongeluk in 2020, Foto verskaf

Hy is ’n kwadrupleeg nadat hy het met sy voete eerste afgespring en verkeerd geland en ’n nekwerwel gebreek het.  Brandon was 174 dae in die hospitaal. Voor dit was hy ’n kranige hokkiespeler, wat onder meer vir die Suid-Afrikaanse Bokkiespan (junior SA skolespan) gespeel het. Hy is steeds by hokkieafrigting betrokke.

“Ek het Megan jare gelede juis op die hokkieveld ontmoet toe ek haar afgerig het.” Verlede jaar het hulle mekaar weer raakgeloop en eers boodskappe uitgeruil en later begin om te kuier.

Hulle vul mekaar aan en is gemaklik met mekaar. Brandon besef ook dat hul verhouding met ’n paar bykomende uitdagings gepaardgaan. Hy is dankbaar dat Megan die lewe saam met hom wil aandurf.

Brandon Moolman het drie weke voor die ongeluk gehoor hy het sy B.Com.-graad in Ekonomie en Internasionale Handel verwerf. Foto verskaf

Hy het nie ’n werk nie en moet elke sent omdraai. “Terwyl ek in die hospitaal was, is ’n organisasie begin om te help met geld vir my versorging. Hoewel ons ’n mediese fonds het, is daar heelwat uitgawes wat nie gedek word nie.”

Hy sê die organisasie sonder winsoogmerk WBF 06 is begin om te help betaal vir Riana Geringer, wat hom voltyds versorg. “Ek kan ongelukkig nie alles doen nie. Sy moet my met al die noodsaaklike dinge help. Sy is ons belangrikste uitgawe.”

Brandon sê die geld vir die organisasie gaan net om te help met sy versorging en word deur boekhouers beheer sodat die besteding bestuur word.

OFM Nuus/Karen van der Berg dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.