On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

South Africa

Daar is drie soorte kiesers – dis nou onder dié wat wel geregistreer het

───   08:48 Mon, 29 Apr 2024

Daar is drie soorte kiesers – dis nou onder dié wat wel geregistreer het | News Article
Slegs 16,4 miljoen kiesers sal dán 62 miljoen Suid-Afrikaners by die stembus verteenwoordig. Foto: SA Regering

“Churchill het eenkeer gesê: ‘Hierdie dokument, bloot weens sy lengte, waarborg dat dit nie klaar gelees sal word nie.’ Hy het sekerlik gepraat van party-politieke manifeste.”

Die gesondheid van ’n land se demokrasie kan gewoonlik gemeet word aan hoeveel kiesers aan die verkiesing deelneem. Juis daarom wek Suid-Afrika se lae stempersentasie kommer.

In sy boek Against Democracy beskryf prof. Jason Brennan van die Universiteit van Georgetown drie soorte kiesers – in Suid-Afrika sal dit wees uit dié wat wel geregistreer het.

Hy onderskei tussen kiesers wat hobbits, hooligans en Vulcans is, berig Steuart Pennington van SA Good News. Vulcans is ’n fiktiewe buiteruimse spesie in die Star Trek-heelal, bekend vir hul logika met so min moontlik emosie. “Hulle is ’n beduidende minderheid mense wat rasioneel optree, data insamel en met volledige inligting stem.

Hobbits is diegene wat nie die moeite gedoen het om meer van politiek te leer nie, en daarom in volle onkunde stem. Hooligans is diegene wat hul eie party volg met dieselfde oorgawe as sportliefhebbers en ’n sekere party aanhang, ongeag vorige prestasie en toekomsplanne.”

Foto: DA

“Ongelukkig,” sê Pennington, “as gevolg van die oorheersing van hobbits en hooligans, is demokratiese uitkomste nie verteenwoordigend van die meerderheid se ware sienings nie. Dit is ook verkeerd en skadelik vir die gemeenskaplike belang.”

Gegewe die jeugdigheid van ons demokrasie en die diversiteit daarvan stel hy voor dat hoewel dit duidelik is dat ons ’n aantal hobbit- en hooligan-kiesers in hierdie land het, ons meer Vulcans het as wat ons vermoed.

Dit is die enigste mense wat waarskynlik hul stem sal verander op grond van die manifes en die slagspreuk van ’n prominente politieke party. Dit is ook die enigste mense wat die legitimiteit van veldtogbeloftes sal ondersoek.

Churchill het eenkeer gesê: “Hierdie dokument, bloot weens sy lengte, waarborg dat dit nie klaar gelees sal word nie.” Hy het sekerlik gepraat van party-politieke manifeste. Dit is waarskynlik slegs die Vulcans wat verder sal lees.

Illustrasie: OVK

Daar was ’n geleidelike afname in kiesersopkoms sedert die 1994 nasionale verkiesing. In die mees onlangse nasionale en provinsiale verkiesing in 2019 is hierdie tendens voortgesit. Die 1994-verkiesing het ’n stempersentasie van 86,87% gehad. Die opkoms by die stembus was 77,3% teen 2009; 73,5% in 2014; en in 2019 het slegs 66,05% van die geregistreerde kiesers by die stembus opgedaag.

Daar is ’n duidelike en kommerwekkende afname in ons kiesers se betrokkenheid.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) sê meer as 27,79 miljoen kiesers – die hoogste sedert die aanbreek van demokrasie in Suid-Afrika – is geregistreer om in vanjaar se nasionale en provinsiale Verkiesing te stem. Sy Mamabolo, hoofkiesbeampte, het gesê die twee registrasienaweke het die land ’n groei van 1,2 miljoen burgers op die kieserslys gegee.

Sou die afname van meer as 7 persentasiepunte van 2014 tot 2019, van 2019 tot 2024 herhaal, sal minder as 59% van geregistreerde kiesers stem. Slegs 16,4 miljoen kiesers sal dan 62 miljoen Suid-Afrikaners by die stembus verteenwoordig.

Ongeveer 370 partye beoog om in die nasionale verkiesing mee te ding en 1 400 partye aan die provinsiale verkiesing. Selfs die nuuskierigste kiesers sal waarskynlik nie hulself van al 380 manifeste kan vergewis nie.

Hier is ’n opsomming van ’n paar van die bekendste partye se manifeste, asook skakels na die volledige manifeste:

SA Good News som die manifeste as volg op:

Foto: SABC

Volgens Pennington is die ANC-manifes vol skreiende teenstrydighede, ’n soort Liquorice Allsorts met sosialistiese retoriek en verhoogde Marxistiese sentralisasie, oortrek met ’n skynbare private sektor-betrokkenheid. Hoe verteenwoordig 2,5 miljoen werksgeleenthede, wat deur die regering gefinansier word, groei in die arbeidsmark

Werksgroei geskied sekerlik via die private sektor? Reële groei in industrialisasie is sekerlik 'n funksie van private sektorinvestering eerder as staatsbesteding? Hoe gebeur 'versterking' van gesondheidsdienste met die implementering van 'n onbekostigbare NGV? 

Hoe verbeter onderwys wanneer die begroting gesny is, wanneer meer onderwysers die beroep verlaat as wat opgelei word, en Sadou geen aandag geniet nie? Waarom word geen melding gemaak van 'n omkeerstrategie (lees privatisering) van ondernemings in staatsbesit nie?

Pennington beskryf hierdie manifes as ‘same old same old’; baie valse beloftes teen ’n bewese 30-jaar rekord van swak dienslewering, met die noemenswaardige uitsondering van die beskerming van die armes deur ’n maatskaplike toelae.

Foto: ActionSA

ActionSA se doelgerigte fokus op die regstelling van plaaslike regering het aanklank gevind; hul manifes het oor min anders gehandel. Dit is maklik om te lees en goed uiteengesit, die beste van die agt wat Penningtoin geresenseer het. Die ses fokusareas word duidelik gestel met verskeie maklik meetbare doelwitte of suksesmaatstawwe. In baie opsigte is dit soos om deur ’n sakestrategiedokument te lees: duidelike doelwitte, duidelike suksesmaatstawwe, maar weinig oor “aktiwiteite”.

Hy hoop hierdie boodskap word goed aan baie van die nuut-geregistreerde kiesers gekommunikeer en kiesers wat op die heining sit en wonder vir wie om te stem.

Foto: SABC

Die IVP-manifes is baie omvattend met ’n 13-puntplan, al 35 bladsye daarvan. Dit is in baie opsigte soortgelyk aan die VF+-manifes deurdat dit fokus op ’n reeks “stam”-uitdagings van kommer vir die Zoeloe-nasie, respek vir tradisionele leiers, Ingonyama Trust, die outonomie van die Koning, ens. 

Maar anders as baie van die ander manifeste het dit verskeie duidelike suksesmaatreëls ten opsigte van SAPD, SANW, ondernemings in staatsbesit, grondhervorming, onderwys, werkskepping en die benadering van vennootskappe met die privaat sektor gehad. Hul president Velenkosni Hlabisa het duidelike bedoelings om die nalatenskap van prins Mangosuthu Buthelezi te behou en die trots van die Zoeloe-volk te verdedig.

Foto: SABC

Die VF+-manifes erken duidelik dat hulle ’n minderheidsparty is wat slegs lewering kan verbeter deur vennootskappe met ander eendersdenkende partye. Die manifes omhels die konsep van ’n subsidiariteitsrol – daardie funksies wat doeltreffend deur ondergeskikte of plaaslike organisasies uitgevoer word, behoort meer behoorlik aan hulle as aan ’n dominante sentrale organisasie. Die manifes maak ook melding van ’n nuwe bedeling eerder as ’n verbeterde regering. 

Die sterk sin vir gemeenskapswaardes, die regte van minderheidsgroepe en die etiese gedrag van politieke partye is deurgaans ’n neiging – om die ANC en die EFF uit die regering te hou, is duidelik die VF+ se dryfveer en missie. Hierdie manifes skep ’n gevoel van trots op die bydrae wat die VF+ lewer ondanks die geringe grootte van hul parlementêre teenwoordigheid.

Pennington is van mening dat ActionSA, Rise Mzansi en VF+ se manifeste verfrissend verskil van die ANC, DA en EFF s’n. As hul leiers goed genoeg werk gedoen het om daar uit te kom en met gemeenskappe te praat wat op soek is na iets nuuts in terme van die verbetering van hul persoonlike omstandighede, kan hierdie partye heelwat stemme van die ‘ouer garde’-partye kry. 

Sonder twyfel, as hulle koalisies met ander soortgelyke partye aangaan, sal die politieke landskap in Suid-Afrika onbetwisbaar begin verander. Nou hoop ons dat politieke beginsels nie plek maak vir opportunistiese, dubbele standaarde nie.

Foto: eNCA

Volgens Pennington stem die beloftes wat deur Rise Mzansi, die DA, EFF en Change Starts Now gemaak word, baie ooreen, maar die manier waarop hierdie beloftes gestand gedoen sal word, verskil ietwat.

Rise Mzansi, met ’n geloofwaardige leierskapspan, fokus op grondwetlike regte.

• Die DA, met ’n bewese rekord in die Wes-Kaap, sal probeer om ’n koalisie-opposisiemag te bou om mee rekening te hou.

• Die EFF sal nasionaliseer en alles vat.

Change Starts Now wil geld insamel wat nou nodig is om hul omkeerstrategie te implementeer.

Change Starts Now se benadering vind aanklank by Pennington: hervorming, werksgeleenthede, maatskaplike toelaes, onderwys, beurtkrag, infrastruktuur en so meer kan nie wag vir ekonomiese groei om te laat nie.

Aangesien Change Starts Now drie maande gelede van stapel gestuur is, is sy kans twyfelagtig om ’n enkele parlementêre setel te behaal, maar ek hoop hul leier Roger Jardine verleen sy sakevernuf aan die Veelpartyhandves.

Ongelukkig, meen Pennington, het geen van hierdie partye, buiten die EFF, 'n dwingende, charismatiese redenaar wat die massas sal opwek tot die punt waar hulle sal stem en anders sal stem.

Foto: EFF

Waar kan ek toegang tot ander manifeste kry?

Manifeste word beskikbaar gestel deur politieke partye deur verskeie kanale, soos hul amptelike webwerwe en sosiale media platforms. Daarbenewens word manifeste dikwels tydens verkiesingsgeleenthede bespreek en gedebatteer.

Volg dié skakel vir ander partye: https://www.pa.org.za/blog/manifestos-ahead-national-elections-2024

Die MK-party se manifes is onlangs beskikbaar gestel en breedweg gebaseer op die volgende agt beleidsdoelwitte:

  1. Om ons land opnuut te sentreer op Afrika-kulturele en morele.
  2. Om weg te beweeg van grondwetlike oppergesag na onbelemmerde parlementêre oppergesag.
  3. Onteiening van alle grond sonder vergoeding en die oordrag van eienaarskap.
  4. Nasionalisering van die SA Reserwebank, groot banke en versekeringsmaatskappye.
  5. Nasionalisering van strategiese myne, ArcelorMittal en Sasol, herlewing van staatsondernemings om ekonomiese groei aan te spoor.
  6. Verseker gratis, verpligte onderwys van hoë gehalte van vroeë kinderjare tot nagraadse vlak.
  7. Die verskaffing van permanente werksgeleenthede vir bekwame en gewillige werkers.
  8. ’n Jaar diensplig om dissipline en patriotisme onder ons jeug te kweek.

Foto: X

As jy tot hier gelees het, is jy waarskynlik ’n Vulcan, stem asseblief!

Table: SA Good News

Table: SA Good News

OFM Nuus mc/mvh



@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.