On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Nolwethu
Listen Live Streams

Central SA

Karooman pak Vergete Hoofweg met perdekar aan

───   HEIDRÈ MALGAS 14:33 Thu, 10 Nov 2022

Karooman pak Vergete Hoofweg met perdekar aan | News Article
FOTO: Facebook/Mcgregor Museum

Die Vergete Hoofweg is die langste erfenisroete in Suid-Afrika en strek 1000km ver vanaf Tulbagh tot in Kuruman.

Die perdekar se reis op die Vergete Hoofweg is Sondag, 6 November 2022, in Griekwastad voltooi.

Die perdekar is deur Piet Coetzer van Senekal bestuur. Hy vertel dat hulle uiteindelik 507km afgelê het omdat die opdraandes vir die perde moeilik was. Hulle het op die paaie begin gly.

“Die beste ervaring van die hele rit was die mense van die Karoo - hulle vriendelikheid, menslikheid en gasvryheid,” sê hy.

Hy vertel dat hulle lekker gery het en lieflike weer ervaar het. Dit het nie gereën nie en dit was sonnig, maar nie te warm nie.

OFM-nuus het vroeër berig dat volgens Doreen Atkinson van die Karoo-ontwikkelingstigting, is daar baie belangstelling in Suid-Afrika se ou kultuur en familiegeskiedenis. Baie name en vanne van mense wat dié roete aangepak het, kom oral oor die land heen voor.

“Daar is baie mense in Suid-Afrika wat nie weet wie hulle voorvaders is nie, en hoe meer 'n mens hierdie inligting beskikbaar maak, hoe meer sal almal besef dat dit ons almal se roete is dié,” sê Atkinson.

LEES OOK: 'Forgotten Highway' se ryk geskiedenis herdenk

Coetzer sê ook daar was baie mense wat langs die pad stilgehou het want almal was nuuskierig oor wat hulle doen. Baie toeriste het ook die roete gery en hulle was almal vriendelik.

Soos Coetzer voorheen gesê het, was water die heel eerste ding wat hy die perde gegee het wanneer hulle stilgehou het. Hulle het elke 10km stilgehou, die perde laat rus, hulle laat water drink en seker gemaak dat hulle nog reg is vir die pad.

Hy vertel dat die hele ervaring positief was. Hulle beplan om volgende jaar ‘n 1000km-lange rit aan te pak.

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.