On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Randburg-slagoffer ‘het geregtigheid gesoek’

───   05:37 Fri, 10 Nov 2023

Randburg-slagoffer ‘het geregtigheid gesoek’ | News Article
Die Randburg-landdroshof. Foto: Masechaba Sefularo/Jacaranda FM

“Soos die rekords sal aandui, is sy in die tronk toegesluit en toe [na bewering] na 'n onbekende plek geneem en gemartel.”

Die vrou wat in ’n oënskynlike sluipmoord buite die Randburg-landdroshof dood is, word deur een van haar voormalige werkgewers as sterk en aanpasbaar onthou.

Die huiswerker en haar lewensmaat is Woensdag buite die hof doodgeskiet, waar hulle albei in ’n aanrandingsaak teen vier polisiemanne sou getuig.

Jacaranda News berig die polisie in Gauteng het ’n soektog na die aanvaller begin. Hul ondersoek sal die beskuldigde beamptes in die 2018-aanrandingsaak insluit. Die staat is ’n dringende aansoek toegestaan om verdere bewyse van die vier polisiebeamptes, wat nie vir die moorde aangekla is nie, te bekom. Dit sluit toetse vir geweerresidu op hul liggame in.

Die ma van drie seuns is beskryf as ’n sterk mens – fisies en emosioneel. Die werkgewer het gevra om nie genoem te word nie uit vrees vir sy lewe.

“Sy was 'n ongelooflike pragtige dame, ongelooflik sterk, en sy was ’n absolute plesier om in ons huis te hê. Ons het haar sonder twyfel met ons kinders vertrou,” het die voormalige werkgewer gesê.

Hy het gesê enigiemand wat die slagoffer geken het, sou kon getuig dat sy nie aan die beweerde inbraak sou deelgeneem het nie, waarvoor sy deur die polisiebeamptes in hegtenis geneem is en na bewering gemartel is.

“Sy het deur absolute hel gegaan. Sy is valslik daarvan beskuldig dat sy deel was van 'n rooftog – as ’n kontakpersoon in die huis waar die misdaad paasgevind het ... en selfs al het ons aangeneem dat die polisie ’n eerlike fout gemaak het, was wat daarná gebeur het, méér as gruwelik.

“Soos die rekords sal aandui, is sy in die tronk toegesluit en toe [na bewering] na 'n onbekende plek geneem en gemartel.”


Hy het ook gesê hoewel die slagoffer die opsie gehad het om te swyg en bly te wees dat sy die beweerde aanranding oorleef het, was sy vasbeslote om geregtigheid te laat geskied.

“Sy wou geregtigheid hê. Sy het drie jong seuns wat nou, omdat haar man ook 'n getuie was en koelbloedig buite die hofsaal geskiet is, sonder ouers gelaat word.

“Ek glo sy het vir geregtigheid geveg sodat haar seuns in ’n beter wêreld kan lewe.”

Niemand is al vir die misdaad in hegtenis geneem nie, wat kommer oor die beskerming van getuies en gevalle van polisiebrutaliteit opnuut in die kollig plaas.


Terwyl owerhede voortgaan met hul ondersoeke, wat die uitvoer van data-analise op die respondente se telefone en ballistiese toetse op hul vuurwapens insluit, het hulle by lede van die publiek, wat enige nuttige leidrade het, gepleit om die polisie te kontak.

Intussen het die vrou se voormalige werkgewer ’n hartstogtelike beroep gedoen dat die moordenaars aangekla moet word.

OFM Nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.