On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret, John and Nadine
Listen Live Streams

Central SA

Minder moord, meer ontvoerings, verkragtings in Noord-Kaap

───   08:30 Mon, 04 Dec 2023

Minder moord, meer ontvoerings, verkragtings in Noord-Kaap | News Article
Die Premier van die Noord-Kaap, dr. Zamani Saul, en die provinsiale polisiekommissaris, lt.-genl. Koliswa Otola, tydens die bekendmaking van die provinsie se misdaadstatistieke. Foto verskaf

Uit die 11 543 voorvalle van misdaad wat gemeenskapslede by die 92 polisiestasies in die provinsie gerapporteer het, was altesame 1 712 verwant aan gesinsgeweld.

Voorvalle van moord en veediefstal in die Noord-Kaap het in die drie maande van Julie tot September effens afgeneem terwyl pogings tot moord met byna 80% en verkragting met byna 10% in vergelyking met dieselfde tydperk ’n jaar tevore gestyg het.

Die provinsie se misdaadstatistieke vir die 2023/24-finansiële jaar se tweede kwartaal is die afgelope week deur die provinsiale misdaadregistrateur, brig. Samuel Mathe, bekend gemaak.

Terwyl voorvalle van moord (agt minder) en veediefstal (46 minder) afgeneem het, het pogings tot moord met 190 méér gestyg. Altesame 44 voorvalle van ontvoering, 18 meer as die ooreenstemmende tydperk, is aangegee.

Ontvoerings het toegeneem in die Noord-Kaap. Unsplash/Stefano Pollio

Uit die 11 543 voorvalle van misdaad wat by die 92 polisiestasies in die provinsie gerapporteer is, was altesame 1 712 verwant aan gesinsgeweld.

Moord

Altesame 95 mense is in die drie maande van Julie tot September in die Noord-Kaap vermoor, waarvan 76 mans en 16 vroue. Die jongste slagoffer was ’n 14-jarige seun en die oudste slagoffers was twee vroue van onderskeidelik 77 en 76 jaar oud. Elf van die moorde het met huishoudelike geweld verband gehou. Die grootste oorsaak van die moorde is rusies, misverstande en uittarting. In 33 van die gevalle was messe die moordwapen en in 17 gevalle vuurwapens.

In 17 gevalle was vuurwapens die moordwapen. Foto: Unsplash/Maxim Hopman

Verkragting

Altesame 284 gevalle van verkragting is aangemeld, wat ’n toename van bykans 10% is. Altesame 159 voorvalle het by die huis van die slagoffer of oortreder plaasgevind en 50 gevalle in openbare plekke soos ’n straat, oop stuk veld of ’n park. In 51 van die gevalle was die oortreder onbekend aan die slagoffer.

Die polisie het altesame 294 verdagtes in hegtenis geneem. In dié tydperk is 61 hofsake suksesvol afgehandel. In 32 van die sake is tronkstraf van tussen 10 en 22 jaar opgelê en in 14 van die sake is tussen vyf en tien jaar tronkstraf opgelê.

Poging tot moord

Voorvalle van poging tot moord het met 190 tot 432 gevalle (’n toename van amper 80%) toegeneem, aanranding met die doel om ernstig te beseer het met 72 tot 1778 gevalle toegeneem en gewone aanranding het met 62 tot 1401 toegeneem.

Roof met verswarende omstandighede

Huisrooftogte het met 15 gevalle tot 51 (byna 42%) toegeneem. Postmasburg het met sewe huisrooftogte die hoogste voorvalle van dié misdaad beleef, gevolg deur Mothibistad [vyf huisrooftogte) en Kimberley en Upington (vier gevalle per polisiestasie]. In 14 van die voorvalle is vuurwapens tydens die rooftog gebruik en in elf van die voorvalle is messe gebruik.

Rooftogte by nie-residensiële persele het met feitlik 39% afgeneem. Altesame 28 minder gevalle is aangemeld. Geen bank- of transitorooftogte is aangemeld nie.


Eiendomsverwante misdaad

Altesame 268 minder eiendomsverwante misdade is aangemeld, van 3093 in die ooreenstemmende tydperk in 2022 tot 2825, wat ’n daling van 9% is. Buiten diefstal uit voertuie wat met 8,5% (46 gevalle) toegeneem het, het huisinbrake en inbrake by nie-residensiële persele beide met sowat 12% afgeneem. Altesame 81 voorvalle van diefstal is by skole aangemeld, 33 by drankpersele en 23 by godsdienstige persele. Diefstal van motors en motorfietse het met sowat 24% afgeneem (elf minder gevalle).

Veediefstal het 'n afname van sowat 10% getoon met altesame 221 voorvalle, 25 minder as die vorige jaar) wat aangemeld is. Meestal skape (altesame 493) is gesteel, gevolg deur bokke (166), beeste (91), pluimvee (71), varke (15), wild (13), perde (4) en een donkie. Altesaam 12 skuldigbevindings aan veediefstal is deur die hof opgelê. In een voorval is ’n skuldboete betaal.

Ontvoerings het die afgelope drie maande met 69% toegeneem. Foto: Unsplash/Jose P. Ortiz

Ontvoerings

Altesame 44 voorvalle van ontvoering is in die drie maande in die provinsie aangemeld, ’n toename van 18 (69%) voorvalle. In 14 van die gevalle het die ontvoering tydens die pleeg van ander misdade soos verkragting, kaping en rooftogte plaasgevind, terwyl die ander verband gehou het met argumente, huishoudelike geweld of waar kinders sonder die toestemming van ’n ouer of voog verwyder is.

Brig. Mathe sê die polisie se toewyding en lang werksure dra by tot die afname van sommige misdade. Hy het gemeenskapslede bedank vir hul samewerking, die Departement van Justisie vir die oplê van stewige vonnisse en die media se hulp om inligting oor kriminele aktiwiteite te versprei.

“Ons pogings en fokus word soms deur onbeplande protesoptogte oor dienslewering ontspoor, maar ons sal daarna streef om ons beperkte hulpbronne te ontplooi waar dit meestal nodig is om te verseker dat gemeenskappe veilig is en voel.”

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen Corné


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.