On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Honde vergiftig, skote klap in plaasaanval in Noordwes

───   ZENANDE MPAME 16:45 Wed, 06 Dec 2023

Honde vergiftig, skote klap in plaasaanval in Noordwes | News Article
Foto: OFM News

“Die polisie ondersoek sake van poging tot moord en opsetlike saakbeskadiging.”

Die polisie is op soek na vyf verdagtes nadat 'n egpaar Maandag (4/12) omstreeks 02:30 op hul plaas Langverwag naby Stella in Noordwes aangeval is. Die aanvallers het die egpaar se honde vergiftig voordat hulle van buite op hulle geskiet het.

Die egpaar is ongedeerd. Die polisie ondersoek sake van poging tot moord en opsetlike saakbeskadiging. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die egpaar se honde het middernag begin blaf. Die boer het skote van binne die huis na ’n boom buite afgevuur. Sy vrou het die honde opgemerk wat dood op die gras gelê het.

‘Die boer het teruggeskiet en die verdagtes het gevlug’

“Skote is van buite afgevuur terwyl Banie en Elmarie de Klerk televisie gekyk het. Weens die toegetrekte gordyne, het die verdagtes gelukkig nie die egpaar beseer nie.

“Die boer het teruggeskiet waarna die verdagtes gevlug het. Vyf koeëldoppies van 'n haelgeweer is deur die polisie gevind.”

AfriForum se 2023-statistieke oor plaasmoorde toon dat die helfte van alle slagoffers ouer as 60 jaar is, hoewel die ouderdom van slagoffers in slegs 36% van gevalle bekendgemaak is. Aanvallers is in slegs nege van 77 voorvalle aangekeer. Wat moordvoorvalle betref, is die verdagtes in slegs twee van die agt moordvoorvalle aangekeer.

“Die syfers dui daarop dat plaasaanvallers nie net glo dat hulle met hul onverskoonbare misdade kan wegkom nie –hulle weet dit,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid.

Die verslag beklemtoon die tekortkominge van die strafregstelsel oor die inhegtenisneming en vonnisoplegging van verdagtes en misdadigers wat in plaasaanvalle en -moorde betrokke is.

OFM Nuus/Zenande Mpame dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.