On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

‘Dis hoekom onnies in Noord-Kaap se salarisse laat betaal is’

───   08:20 Fri, 02 Feb 2024

‘Dis hoekom onnies in Noord-Kaap se salarisse laat betaal is’ | News Article
Foto: Noord-Kaapse Departement van Onderwys

“Die departement werk oortyd om aanstellings van tydelike onderwysers voor 9 Februarie af te handel.”

Die Noord-Kaapse onderwysdepartement sê dis weens die laat indiening van noodsaaklike dokumente dat sommige onderwysers nog nie hul Januarie-salaris ontvang het nie.

Geoffrey van der Merwe, departementele woordvoerder, het aan OFM Nuus verduidelik waarom die betalings van salarisse vertraag is. Volgens hom het die kontrakte van tydelike onderwysers op 31 Desember verstryk. As proaktiewe stap het die departement reeds in Oktober ’n omsendbrief uitgereik om die benoeming en aanstellings van tydelike en plaasvervangende opvoeders vir die 2024-skooljaar te verseker.

“Die kontrakte van tydelike personeel verval jaarliks en moet dus jaarliks hernu word. Die laat indiening van die nodige dokumente, sowel as onvolledige dokumente, vertraag die proses om heraanstellings te doen.

“Daar moet kennis geneem word dat geen betaling verwerk sal word nie indien alle dokumente nie ingedien of onvolledig is nie. Die departement werk oortyd om aanstellings van tydelike onderwysers voor 9 Februarie af te handel.”

Onderwysers wat in die laaste kwartaal (Oktober tot Desember) vir omskakeling in aanmerking gekom het, se uitkoms sal vandeesmaand bekend gemaak word nadat hul omsigtigheidsondersoeke afgehandel is.

Volgens Van der Merwe sukkel sommige skole, veral in die distrikte John Taolo Gaetsewe (Kuruman en omstreke) en Pixley Ka Seme (Hopetown, Griekwastad, Britstown en omstreke) om gekwalifiseerde onderwysers te werf wat by die posvereistes pas.

Hy sê die aanstelling van tydelike onderwysers word ook geraak deur onderbrekings in die Persal-stelsel – die menslike hulpbron- en betaalstaatstelsel vir regeringsdepartemente.

OFM Nuus cg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.