On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Talle Noord-Kaapse onderwysers wag nog angstig op hul salaris

───   15:58 Wed, 31 Jan 2024

Talle Noord-Kaapse onderwysers wag nog angstig op hul salaris | News Article
Onderwysers in die Noord-Kaap is nog nie almal betaal nie. Foto: Facebook

“Onderwysers is bang om uit te praat uit vrees vir vergelding en omdat hulle skaars werkgeleenthede wil beskerm.”

Talle onderwysers in die Noord-Kaap wag nog angstig op hul Januarie-salaris wat reeds die 20ste van die maand inbetaal moes gewees het. Sommige onderwysers is wel laat betaal, op die 26ste of 27ste. Intussen is die Departement van Onderwys tjoepstil oor wanneer onderwysers vergoed gaan word.

“Dit blyk wydverspreid oor die Noord-Kaap voor te kom, maar veral in die Frances Baard-distrik,” sê Pakes Dikgetsi van Cope. “Ons vrees dit is die begin van ’n toenemende krisis in die onderwyssektor. Onderwysers is bang om uit te praat uit vrees vir vergelding en omdat hulle skaars werkgeleenthede wil beskerm.

“Cope is ook ingelig dat die departement heelparty van hierdie onderwysers al langer as twee jaar gelede tydelik in diens geneem het sonder om aan te dui wanneer hulle permanent aangestel gaan word.”

Pakes Dikgetsi van Cope. Foto: Skermgreep

Dikgetsi sê die departement swyg oor die rede vir die geen of laat betaling van onderwysers. “Ons weet nie hoekom die onderwysers nie betaal is nie. Ons sou verwag dat die departement hulle sou inlig of verduidelik het hoekom hulle nie betyds betaal is nie.”

Sommige onderwysers het wel laat, ná 20 Januarie, hul salaris ontvang, terwyl ander nog angstig wag. Dikgetsi sê dit herinner hom aan ’n aanhaling uit George Orwell se boek, Animal Farm: “Alle diere is gelyk, maar sommige diere is meer gelyk as ander.”

‘Dit beinvloed die moraal van onderwysers’

Dikgetsi sê die laat betaling van salarisse raak nie net die onderwyser nie, maar ook hul gesinne en uitgebreide families. “Dit beïnvloed die moraal van onderwysers. Mens sou van die departement verwag om deursigtig te wees, om aan onderwysers die omstandighede te verduidelik. Dit sê baie oor die integriteit van die departement, dat hy eenvoudig net nie vir sy onderwysers omgee nie. Dit is bekend dat die departement tot op grondvlak wanbestuur word.”

Hy lê ook die Noord-Kaap se swak 2023-matriekuitslae voor die deur van premier  Zamani Saul se “onprofessionaliteit en irrasionele besluite”.

“Cope veroordeel hierdie verraad van die land se mees kritieke mensehulpbron – onderwysers. Dit ondermyn die land se ontwikkelingsdoelwitte. Ons doen 'n beroep op alle onderwysers, permanente of tydelik, ouers en ander belanghebbendes om te verenig en hierdie aanval op die waardigheid van onderwysers en kinders te stop.

Die woordvoerder van die onderwysdepartement, Geoffrey van der Merwe, het by navraag aan OFM gesê dat die departement binnekort ’n mediaverklaring sal uitreik.

OFM Nuus dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.