On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Inwoners van Viljoenskroon spring self in om dorp skoon te maak

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:30 Fri, 26 Apr 2024

Inwoners van Viljoenskroon spring self in om dorp skoon te maak | News Article
“Baie dankie aan die vrywilligers wat kom help het, ek het groot waardering daarvoor.” Foto verskaf

“Moqhaka is bewus van die paaie wat nie in ’n goeie toestand is nie, maar sê hy het ’n plan.”

Inwoners van Viljoenskroon het die afgelope naweek die hand aan die ploeg geslaan om selfs hul dorp skoon en netjies te maak.

Hulle is daartoe aangespoor deur die afwesigheid van munisipale skoonmaakdienste op die Noord-Vrystaatse dorp, wat inwoners met die verantwoordelikheid gelaat het om self skoon te maak. AfriForum se plaaslike tak het die opruiming georganiseer en inwoners het gehelp.

“Taklede en inwoners het Saterdag (20/04) van vroegdag af die gevaarlike en onooglike oop erf op die hoek van Denyssen- en Piet Retiefstraat skoongemaak,” vertel Alta Pretorius, Mooirivier-distrikskoördineerder.

“Otto Kurten het al die vorige dag ingespring en die gras gesny, wat Saterdag se werk baie makliker gemaak het. Ongeveer 30 vrywilligers, onder wie Ignaz Streicher en sy span van Overvaal Stereo, en werkers het vullis opgetel, bome gesnoei en die straatvore en stormwaterkanaal skoongemaak.”

Die veld wat skoongemaak is. Foto verskaf

Daar is 63 sakke rommel, gras en blare opgetel en verwyder, en ongeveer vyf vragte boomtakke is weggery. “Die groot skoonmaakprojek maak dit vir haweloses en dwelmhandelaars moeiliker om hierdie erf vir die verkeerde redes te gebruik,” sê Pretorius.

“Stukkie vir stukkie maak hierdie tak ’n groot verskil op Viljoenskroon. Die netheid van hierdie erf is baie belangrik, veral omdat daar onwettighede bedryf word as dit so oorgroei is en ook omdat dit oorkant ’n ouetehuis geleë is. Baie dankie aan die vrywilligers wat kom help het, ek het groot waardering daarvoor,” sê hy.

“Die munisipaliteit was nie bewus van die skoonmakery nie en indien hulle ingelig was, sou hulle gehelp het met vullissakke en ’n vragmotor vir die afvalverwydering,” sê Dika Kheswa, Moqhaka-woordvoerder.

“Dit is nie waar dat die munisipaliteit nie skoonmaak nie, maar die handhawing van netheid vir die dorp is ’n gedeelde verantwoordelikheid tussen ons en inwoners. Ons kan egter nie verantwoordelik gehou word vir mense wat hulle vullis of ander afval stort nie.”

Die stuk erf wat skoongemaak is. Foto verskaf

Moqhaka sê hy is bewus van die paaie wat nie in ’n goeie toestand is nie, maar dat hulle ’n “plan” het.

“Ons waardeer dat die inwoners inisiatief neem om die dorp self skoon te maak en is dankbaar vir wat AfriForum doen.”

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh/cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.