On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben
NEXT: 09:00 - 12:00 Classic Sundays with Tony
Listen Live Streams

Agriculture

Dubbelle slag vir Noordwes-boere met beurtkrag én kragvermindering

───   ELSABÉ RICHARD 07:45 Tue, 31 Jan 2023

Dubbelle slag vir Noordwes-boere met beurtkrag én kragvermindering | News Article
FOTO: www.kuhn.com

Boere in Noordwes gaan nie net onder Eskom se beurtkrag gebuk nie, maar ook onder kragvermindering.

Die algemene bestuurder van Agri Noordwes, Naudé Pienaar, sê behalwe vir die uitdagings met krag, “is swak onderhoud, swak herstelwerk en swak reaksie van Eskom af” ook ‘n groot kwessie.

LEES OOK: Situasie in Lichtenburg versleg dramaties nadat Clover na KZN skuif

Hy deel dat kragvermindering veral probleme op kraglyne veroorsaak, wat lei tot transformators wat uitbrand en probleme met kabels, wanneer hierdie probleme aangemeld word, neem dit Eskom ‘n week om dit te herstel, wat die situasie verder bemoeilik.

‘n Boer in die Coligny-omgewing het duisende van sy hoenders verloor weens probleme met ‘n transformator. Herman du Preez het met OFM-nuus gedeel dat die probleem aan Eskom gerapporteer is, maar dat die gesloer daartoe gelei het dat hy sowat 40 000 hoenders verloor het.

Du Preez het ook gedeel dat hy beplan om die kragvoorsiener te dagvaar.

ALSO READ: Food security at risk due to South Africa's energy crises

Gewasse onder besproeiing

Volgens Pienaar is dit moeilik om in hierdie stadium te kan sê wat die verliese is wat besproeiingsboere gely het, aangesien werklike verliese dalk eers gedurende strooptyd gesien sal word.

LEES OOK: Beurtkrag noop besproeiingsprodusente om Eskom van risiko’s in te lig - KYK

“Maar die [graanprodusente] wat ervare besproeiingsboere is, weet daar is kritieke stadiums waar graangewasse optimale reën moet kry, en dit gebeur nou nie. Hulle kan nie die plante die hoeveelheid water gee wat hulle moet kry nie. Potensieel het hulle al geweldig baie skade gely.

“Al kry ons nou goeie reën. Al kan ons besproei soos altyd, dink ek die graan het reeds skade gekry."

Pienaar beklemtoon dat die koste om bedrywighede gedurende kragvermindering en beurtkrag aan die gang te hou, geweldig duur is. “Veral as iemand nie daarvoor beplan het nie en nou skielik ‘n kragopwekker moet kry, koop of huur. Dit maak dit onbekostigbaar duur vir mense om kos te produseer.

Noord-Kaapse besproeiingsboere

OFM-nuus het onlangs berig dat besproeiingsboere in die Noord-Kaap ook hul kommer uitgespreek het oor die onreëlmatige implementering van beurtkrag.

'n Groep produsente het in 'n mediaverklaring gevra dat Eskom, tesame met die betrokke regeringsdepartemente én landbouers, saam moet kyk na moontlike oplossings vir hoe beurtkrag toegepas kan word sodat oeste onder besproeiing nie tot niet gaan nie.

‘n Produsent in die Douglas-omgewing Jaco Cilliers vertel dat produsente en hul werkers addisionele ure moet werk omdat krag enige tyd van die dag óf nag aan en af geskakel word.

“Die beurtkrag het ‘n geweldige invloed op die boere en hulle werkers in die Noord-Kaap en in omliggende gebiede op die oomblik… Die mense en boere is oorweldig oorwerk.

“Omdat dit ‘n lae reënval area is, kan ons nie regtig op reën staatmaak om die oeste [nat te lei nie]. So, ons is 100% van besproeiing en Eskom afhanklik.”

OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.