On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 The Music Man Mix with The Music Man
Listen Live Streams

Agriculture

Situasie in Lichtenburg versleg dramaties nadat Clover na KZN skuif

───   ELSABÉ RICHARD 08:40 Wed, 25 Jan 2023

Situasie in Lichtenburg versleg dramaties nadat Clover na KZN skuif | News Article

Suiwelprodusente en die gemeenskap in die algemeen in Lichtenburg in Noordwes is steeds besig om te herstel nadat Clover sy kaasfabriek in 2021 na KwaZulu-Natal verskuif het.

Dié besluit deur Suid-Afrika se grootste suiwelmaatskappy en een van die voorste vervaardigers en bemarkers van voedselprodukte in die land, is na bewering geneem op grond van swak dienslewering deur die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit. 

LEES OOK: Resignation of Ditsobotla mayor questioned

Agri Noordwes se Naudé Pienaar vertel dat die verskuiwing van die kaasfabriek na 'n ander provinsie ‘n slegte impak op die ekonomie van die dorp gehad. Hy sê selfs die skole het ook daaronder gely soos inwoners die dorp verlaat het.

“[Van die suiwelprodusente] verskaf [melk] aan groot ontvangers. Van hulle weet ek vat nogsteeds hulle melk Botswana toe, [terwyl] ander dit lewer op ander plekke in die land. So, hulle was ongelukkig gedwing gewees om van ander kopers gebruik te maak,” sê Pienaar.

ALSO READ: Experts weigh in on #Clover’s closure of Lichtenburg factory

Hy voeg by dat die situasie in Lichentenburg dramaties versleg het en dat die munisipaliteit steeds in chaos is.

OFM-nuus het voorheen berig dat die Ditsobotla munisipaliteit in ‘n stadium twee munisipale bestuurders en ook twee burgemeesters gehad het. Die munisipale raad is toe op 15 September 2022 deur die Noordwes Provinsiale Regering ontbind.

ALSO READ: Troubled North West municipal council dissolved

Die munisipaliteit het beweer dat een van die twee bestuurders, wat nie deur die raad verkies is nie, na bewering toegang tot die bankstelsel van die munisipaliteit gehad het. Dit het moeilikheid vir die munisipaliteit se finansiële stabiliteit geskep.

Pienaar sê inwoners sukkel steeds met water- en elektrisiteitsvoorsiening en dat die struwelinge in die munisipale raad voortduur.

“Daar is verskeie besighede wat besig is om te kyk na alternatiewe, wat dreig en wat planne maak om die dorp te verlaat as dit so moet aangaan.

“Ons het ook verneem van mense wat beplan het om hier te kom aftree en huise reeds gekoop het wat nou weer probeer om daardie huise te verkoop, [want hulle wil] nou nie meer Lichtenburg toe kom nie. So, dis maar ‘n redelike donker prentjie wat nou hier geskets word in Lichtenburg…”

'n Melkboer in Noordwes, Johan Strydom, het in Junie 2021 met OFM-nuus gedeel dat Clover se besluit om uit die Noordwes te verhuis, stremming op die melkboere plaas om die melk te verskuif. 

Die destydse premier van die provinsie, Job Makgoro, het beklemtoon dat die sluiting van die Clover-aanleg in Ditsobotla 'n aanduiding is van hoe munisipaliteite dienslewering moet prioritiseer, in plaas daarvan om miljoene in dienste te pomp wat nie van goeie nut is vir die finansiële gesondheid van munisipaliteite óf sy gemeenskappe nie.

OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.