On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Meer privaat ondersoekers vir veediefstal opgelei

───   16:00 Thu, 18 Apr 2024

Meer privaat ondersoekers vir veediefstal opgelei | News Article
Beeste wat teruggevind is. Foto verskaf

“Altesaam 21 privaat ondersoekers is nou in die Vrystaat beskikbaar om veediefstal te bekamp. Vrystaat Landbou, in samewerking met ’n privaat sekuriteitsmaatskappy, het 16 bykomende PSiRA-geregistreerde privaat ondersoekers opgelei.”

Die opleiding volg op versoek van verskeie Vrystaatse boerderygemeenskappe waar veediefstal hoogty vier.

“Die inisiatief het aanvanklik op 1 Julie 2023 in die Fezile Dabe-distrik begin toe Vrystaat Landbou self R1 miljoen befonds het, omdat gevalle van veediefstal in die Vrystaat onaanvaarbare vlakke bereik het. 

“’n Tekort aan mannekrag, voertuie en toerusting by veediefstal-eenhede van die polisie is ’n groot bron van kommer en dit het duidelik geraak dat ’n gemeenskapsprojek nodig was om te help om dinge om te draai,” sê Peet Swanepoel, provinsiale koördineerder vir die PSiRA- (Private Security Industry Regulatory Authority) privaat ondersoekers.

Suksesse wat bereik is in samewerking met die polisie se landelikeveiligheids-koördineerders, asook veediefstaleenhede in sekere hoëmisdaadgebiede het reeds gewys dat die inisiatief uitgebrei moet word.

Steynsrus, Bultfontein, Jacobsdal, Marquard, Reddersburg en Bloemfontein se boerderygemeenskappe het mense geïdentifiseer om as privaat ondersoekers opgelei te word om hulle te bemagtig en op te lei om dié soort misdaad doeltreffend te bekamp. Die gemeenskappe aanvaar ook self verantwoordelikheid vir alle operasionele onkoste aangaande die ondersoekers.

Isabel Kruger, veediefstalveiligheidsverteenwoordiger van Vrystaat Landbou, meen dat die groot behoefte op grondvlak daarop dui dat kommersiële boere geweldig geteiken word deur kriminele groepe en sindikate wat vee steel. 

“Dit het so vererger dat heelwat boere hul boerderypraktyke moes opgee, óf van sekere dieretipes ontslae raak. Die koördinering van dié tipe misdaad en sentralisering van alle inligting is van kardinale belang ten einde sukses te bereik.”

OFM Agri mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.