On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Nolwethu
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Vioolsdrift-moorde: Beskuldigde op borgtog vrygelaat

───   HEIDRÈ MALGAS 13:12 Thu, 16 Nov 2023

Vioolsdrift-moorde: Beskuldigde op borgtog vrygelaat  | News Article
Jacobus (Japie) Dawid Claassens staan tereg op twee aanklagte van moord waar hy na bewering twee vriende geskiet het wat sy huis besoek het. Foto verskaf

Jacobus (Japie) Dawid Claassens is op streng borgtogvoorwaardes vrygelaat.

Borgtog van R5 000 is in die distrikshof in Springbok toegestaan aan Jacobus (Japie) Dawid Claassens (59) van Vioolsdrift in die Noord-Kaap. Claassens staan tereg op twee aanklagte van moord nadat hy na bewering twee van sy vriende by sy huis doodgeskiet het.

Coenie de Beer was ’n prokureur in Knysna en James Kriel, ’n proteaboer van Baardskeerdersbos.

Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder in die Noord-Kaap, sê die voorval het op 31 Oktober 2023 plaasgevind. Claassens het na die polisiekantoor gegaan om die skietvoorval aan te meld. Met die polisie se aankoms was die twee mans in ’n kritieke toestand en is na die hospitaal in Upington geneem.  

Netwerk24 berig hy het na bewering ook voorheen op sy gewese plaasbestuurder geskiet. 

Senokoatsane sê die voorwaardes vir sy borgtog sluit in dat hy elke Saterdag hom by die polisiekantoor moet aanmeld. Hy mag ook nie kontak met enige van die getuies maak nie en moet by sy huidige adres bly. Indien hy dit verlaat, moet hy die ondersoekbeampte in kennis stel. Hy moes ook sy paspoort inhandig en mag hom ook nie skuldig maak aan enige ander misdaad nie. 

Cherelle Ehlers, provinsiale polisiewoordvoerder, sê vier mans het daardie dag vir Claassens kom kuier. "In die vroeë oggendure het bure skote gehoor en na die kleinhoewe gegaan om ondersoek in te stel. Die eienaar van die kleinhoewe het na bewering beken dat hy twee mans geskiet het en wou hom aan die polisie oorgee.” 

OFM Nuus het vroeër berig ’n inwoner beweer Claassens is nie ’n maklike mens om mee oor die weg te kom nie. “Daar was al uitvalle tussen hom en ander mense in die omgewing. Die polisie moes al lankal sy vuurwapens van hom afgeneem het.”

Claassens het soos ’n kluisenaar geleef. ’n Buurvrou sê hy het oorspronklik in Kaapstad gewoon en later permanent na Vioolsdrift getrek. Sy sê hy het hom mettertyd aan die samelewing onttrek en onversorg voorgekom.

Hy en sy honde het alleen gewoon en het by niemand gekuier nie. “Niemand het hom eintlik goed geken nie. Hy was ook nie op een van ons WhatsApp-groepe nie.”

Senokoatsane sê die staat het die borgtog teengestaan. Die saak is tot 13 Desember uitgestel. 

OFM Nuus/Heidré Malgas     Daphné/Corné




@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.