On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Afstand bring vreugde en verlange oor die Kerstyd

───   ELSABÉ DE JAGER 08:51 Fri, 22 Dec 2023

Afstand bring vreugde en verlange oor die Kerstyd | News Article
Foto: iStock

“In baie gevalle word die tasse gepak en die lang vlug na familielede, ver van die huis, begin."

Rondom Kersfees word die afwesigheid van geliefdes wat oorsee woon nóg intenser beleef as die res van die jaar. 

Dit is veral in hierdie tyd dat die behoefte aan die hervestiging van familiebande sterk navore tree, skryf Sulette Ferreira, emigrasieterapeut, onlangs in Daily Maverick. In baie gevalle word die tasse gepak en die lang vlug na familielede, ver van die huis, begin.

Die tyd om by haar kinders in Ierland te gaan kuier, het die afgelope week eindelik aangebreek vir Vivienne Pistorius, bemarkingsbestuurder by die CityMed-daghospitaal in Bloemfontein. 

Vivian-Ann en Ansunell kan vanjaar sáám die liggies van Ierland geniet. Foto verskaf

“Ek ontvang vanjaar die heerlikste geskenk deur vir die eerste keer in baie jare saam met al my kinders Kersfees te vier, dit nogal in Ierland!” Haar jongste dogter, Ansunell, en skoonseun Matthew woon sedert Januarie in Dublin. Ansunell is ’no uditeur en Matthew is betrokke by Decathlon Sports.

Wat die vooruitsig nóg opwindender maak, is dat Pistorius se ander dogter, Vivian-Ann, en haar man, André, reeds in Dublin aangekom het om die Kerstyd saam te vier. Hoewel Pistorius haar kinders mis, weet sy dat hulle bevoorreg is om die wêreld te verken en moedig sy hulle aan om al die geleenthede aan te gryp. 

Ook vriende wat verspreid deur die wêreld woon, verlang na mekaar in hierdie tyd. Charné Viljoen-Van Gend, regsgeleerde en boorling van Bloemfontein, woon deesdae saam met haar gesin op hul plaas in die distrik Somerset-Oos. 

Sy sê ses van hul vriende woon in die buiteland. “My hartsvriendin Clarisse Kotzé woon in Frankryk. Ons ken mekaar reeds van geboorte af.” 

Charné Viljoen-Van Gend (regs), wat deesdae saam met haar gesin op ’n plaas in die Oos-Kaap woon, sal nie haar vriendin Clarisse te sien kry wanneer dié in Suid-Afrika kom kuier nie. Foto verskaf

Al kom die Kotzé-gesin vanjaar Kersfees in Suid-Afrika vier, sal Charné en Clarisse nie saam kan kuier nie. Dis ’n groot teleurstelling, maar hulle sien uit na ’n volgende keer. Intussen bly hulle dankbaar vir die hulp van sosiale media om die afstand kleiner te maak.

Carli de Jager, ’n skoonheidsalonbestuurder in Victoria, Brits-Columbië, sal nie vanjaar die lang vlug na haar familie in Bloemfontein onderneem nie – tog sien sy uit na ’n uitgestelde Kersviering in April volgende jaar. “Dan gaan ons sommer heelwat verjaarsdae wat sonder my familie gevier is, ook geniet!” lag sy.

De Jager bring Kerstyd saam met haar suster, Heidi, en Kanadese swaer, Rhys, asook haar hondjie, Maggie, in Victoria deur. “Ek hou Suid-Afrika diep in my hart. Vanjaar sit ek vir elke kollega twee rooibosteesakkies in sy Kerskous.” Sy en Heidi sorg ook vir malvapoeding en melktert by die feesviering saam met ander Suid-Afrikaners.

Carli de Jager, met Maggie in haar arms, sal nie vanjaar die lang reis na haar familie in Bloemfontein onderneem nie. Foto verskaf 

Paul en Petra du Toit van Parys is nóg ’n Vrystaatse ouerpaar wie se kinders oorsee woon. Hul seun Paul en sy vrou, Marike, woon saam met hul dogters, Mia en Lumari, op die eiland Jeju in Suid-Korea. Paul en Marike se onderwys avontuur, wat aanvanklik net ’n jaar sou duur, het uiteindelik in ’n permanente verblyf van nou reeds tien jaar ontwikkel.  

Petra sê Paul en Marike het kort ná hul aankoms uitgereik na Koreaanse kollegas en Christene in hul nuwe gemeente. Sy glo dit het die aanpassing vir hulle baie vergemaklik. 

Die Du Toits besoek Suid-Afrika selde oor die Kerstyd, aangesien dit nie ’n vakansieseisoen in Korea is nie. Vir hul ouers is die vroegoggendgesprek op Kersdag met hulle en die kleinkinders altyd ’n troos. Op die Sondag naaste aan Kersdag woon Paul en Marike saam met hul kinders ’n Kersdiens by in die interkerklike gemeente waaraan hulle behoort.

Die Du Toits, pa Paul met Mia en ma Marike met Lumari, besoek hul vaderland selde uit Suid-Korea oor die Kerstyd. Foto verskaf 

Ferreira, as ervare emigrasieterapeut, verwys na die oomblik aan die einde van so ’n kuier as bittersoet. Dit is ’n oomblik waartydens hartseer en liefde kruis. Sy sê dit is ook met die groetslag dat ouers, kinders en vriende, paradoksaal genoeg, dikwels ’n diep gevoel van konneksie beleef. 

Dit is belangrik om dié gevoel te koester, aangesien dit as kontinuïteit van samesyn kan dien vir die verlang tye wat weer voorlê.

 OFM Nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.