On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaap: Moenie visvang of swem in waterkanale

───   ZENANDE MPAME 13:53 Mon, 18 Mar 2024

Noord-Kaap: Moenie visvang of swem in waterkanale | News Article
Gemeenskapslede help met die soektog na die man. Foto: Verskaf.

“Kanale is gevaarlike waterweë en ons waarsku mense om nie daar vis te vang of te swem nie.

Die Noord-Kaapse polisie waarsku inwoners om uiters versigtig by waterkanale te wees. ’n Man se liggaam is uit ’n kanaal gehaal vier dae nadat hy verdrink het.

Jean Klaasens (35) en ’n vriend was besig om vis te vang toe hy Dinsdag (12/3) in Bonitapark, Hartswater, in die kanaal geval het. Sy hengeltoerusting het in die water geval en hy het ook in die water beland. Sy vriend kon hom nie uit die water trek nie. 

“Die soek-en-reddingspan en die polisie van Hartswater het sy liggaam Vrydag uit die kanaal naby Lamoenkop-hoewes op Hartswater gehaal,” sê Sergio Kock, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder. 

Die Hartswater-kanaal. Foto: Vaalharts-waterverbruikersvereniging

“Kanale is gevaarlike waterweë en ons waarsku mense om nie daar vis te vang of te swem nie. Veral nie in die somer wanneer die versoeking groot is om dit in die water te waag nie,” sê hy. 

Die Noord-Kaapse polisie is bekommerd oor die onlangse toename in verdrinkings.  

 Voorsorgmaatreëls

  • Moet nooit swem of visvang wanneer jy onder die invloed van drank, medikasie of dwelms is nie.
  • Wees versigtig by rivieroewers. Moenie daar visvang of gaan afkoel nie. 
  • Moet nooit alleen visvang of swem nie.
  • Wees versigtig vir die gladde, modderige oppervlakke by rivieroewers of kanale.
  • Moet nooit swem of visvang tydens storms of sterk wind nie.
  • Meld beweerde verdrinkings onmiddellik by die polisie aan.

Die Noord-Kaapse polisie vra die publiek om versigtig by water te wees. Foto: SAPS 

Die Vaalharts-waterverbruikersvereniging het die watervlak in die Hartswater-kanaal Vrydag (15/3) met 30% verlaag om die soektog na die man te vergemaklik.

OFM Nuus/Zenande Mpame dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.