On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse gemeenskap ontevrede; eis polisievrou se skorsing

───   10:52 Sat, 06 Apr 2024

Noord-Kaapse gemeenskap ontevrede; eis polisievrou se skorsing | News Article
Foto verskaf

“Dit is onregverdig – die polisievrou gaan voort om te werk terwyl die familie steeds oor hul oorlede seun rou.”

Die gemeenskap van Kutlwanong/Club 2000 in Kimberley, in die Noord-Kaap, het onlangs by die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) se kantore gaan betoog weens ’n polisievrou wat op 25 Februarie 2024 na bewering ’n onskuldige man doodgeskiet het.

Die polisie was op soek na ’n verdagte wat glo twee kratte bier by ’n taverne gesteel het. Toe hulle hoor van ’n man in Club 2000 met dieselfde naam, het hulle gedink dit is die verdagte waarna hulle soek.

Hulle het na hom gegaan met die bedoeling om hom in hegtenis te neem. Dit het tot ’n argument gelei waarna hulle na bewering vir hul veiligheid gevrees het en twee mense geskiet het. Een man is op die toneel dood en die ander een is in hegtenis geneem en na die hospitaal vir behandeling geneem. Hy word by die Bougroep-gevangenis in Kimberley aangehou.

Die Opod-bestuur het aan die betogers gesê die saak word ondersoek. Foto verskaf

Die gemeenskap het daarna na die Opod-kantore opgeruk. Die bestuur het gesê die saak is by hulle en dat hulle onmiddellik ná hul ondersoek stappe gaan doen.

Die gemeenskap is egter ontstoke omdat dit byna twee maande later is en omdat geen inhegtenisneming al uit die ondersoek voortgevloei het nie.

Die ander saak waaroor hulle betoog, is die feit dat die polisievrou wat na bewering by die Club 2000-skietery betrokke is, steeds vir die polisie werk. Sy en ander polisielede het glo na die familie van die oorledene gegaan en hulle gedreig. Hulle het na bewering ’n vuurwapen op ’n swanger vrou gerig.

“Dit is onregverdig – die polisievrou gaan voort om te werk terwyl die familie steeds oor hul oorlede seun rou,” het ’n lid van die gemeenskap gesê.

OFM Nuus se pogings om kommentaar van Opod in Kimberley, asook die hoofkantoor, te kry was onsuksesvol.

OFM Nuus/James Williams cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.