On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Corruption Watch wys Vrystaat se onreëlmatighede uit

───   11:08 Sat, 06 Apr 2024

Corruption Watch wys Vrystaat se onreëlmatighede uit | News Article
’n Onbewoonde regeringseiendom in Parkwes het na bewering ’n misdaadnes geword. Foto verskaf

“Staatsamptenare in die Vrystaat aangestel in poste waarvoor hulle nie kwalifiseer nie.”

Die Vrystaat is deur die waghond Corruption Watch as een van die provinsies met die meeste indiensnemingsonreëlmatighede bestempel.

Die SABC se Refilwe Mekoa berig volgens dié organisasie se jaarlikse korrupsieverslag – Changing the Landscape – impliseer dit onder meer dat staatsamptenare in die Vrystaat aangestel is in poste waarvoor hulle nie kwalifiseer nie.

Die verslag het die Vrystaat onder die drie mees korrupte provinsies in die land geplaas.

Indiensnemingsonreëlmatighede en wanadministrasie is van die korrupte praktyke wat aan die lig gebring is.

’n Politieke kenner meen die kwessie van korrupsie kom al lank in Suid-Afrika voor en is 'n bose kringloop waarvoor die Vrystaat bekend geword het.

“Dit is baie kommerwekkend dat ’n provinsie, soos die Vrystaat, waar politieke binnegevegte al jare woed, ook onder die top drie provinsies is wat in terme van korrupsie uitgewys word. Dit is baie kommerwekkend, maar ek het groot vertroue in die huidige leierskap van die provinsie,” sê die politieke ontleder prof. Sethulego Matebesi.

‘Fondse word nie toegeken nie en dit ry die groei van die provinsie se ekonomie in die wiele’

“Fondse moet toegeken word deur die mense wat aan bewind is, veral in die Vrystaat. Kom ons praat byvoorbeeld oor fondse vir infrastruktuur – ’n mens sien die toestand van ons paaie, van ons dorp – en jy besef daar is ’n probleem. Fondse word nie toegeken nie en dit ry die groei van die provinsie se ekonomie in die wiele,” sê ekonoom Mgcinazwe Zwane.

Daar is gemengde reaksie oor die verslag, met sommige burgerregtebewegings wat nie daarvan oortuig is nie, terwyl ander die bevindings bevestig.

“Ek wil eerstens weet hoe hulle tot daardie gevolgtrekking gekom het. Ek sê nie daar is geen korrupsie nie, daar is korrupsie oral in Suid-Afrika. Die huidige leierskap het ’n korrupte stelsel geërf en hoe stop jy daardie korrupte stelsel nou,” vra Mangaung Concerned Community se Donald Constable.

“Ons is nie gelukkig nie, want dit wys dat ons leierskap ons nie ernstig opneem nie – die werkloses – maar ons sê dit is weens ’n gebrek aan leierskap in die provinsie, dit is hoekom ons in hierdie posisie is,” sê die Botshabelo Unemployment Movement se Mooketsi Diba.

Daar word gesê dat korrupsie dienslewering negatief beïnvloed. Kenners bevraagteken daarom die rede dat dit steeds voortgaan.

“Op die einde van die dag is die vraag hoekom gaan dit voort, veral as ons na hierdie jaarverslag van die ouditeur-generaal kyk. Ek glo sterk dit gebeur omdat daar absoluut geen gevolge is nie,” sê Matebesi.

OFM Nuus  cg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.