On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Burgery moet agenda dryf vir beter SA

───   ELZETTE BOUCHER 22:06 Fri, 12 Apr 2024

Burgery moet agenda dryf vir beter SA | News Article
die nuwe kanselier van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, dr. Vincent Maphai. Foto: Facebook skermgreep

“Dit is binne ons bereik om ’n samehorige, suksesvolle en magtige Suid-Afrika te skep; dis iets wat ons móét nastreef.”

Met ’n kragtige wekroep het die nuwe kanselier van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) Vrydagmiddag (12/4) tydens sy inhuldiging in Bloemfontein aan personeel die uitdaging van uitnemendheid en toerekeningsvatbaarheid gestel om te verseker dat die instelling sy rol in die samelewing vervul.

Dr. Vincent Maphai se benoeming is vroeër deur die raad aanvaar nadat sy voorganger, regter Mahube Molemela, se termyn in Desember verstryk het. Hy is bekend as voorsitter van die raad van die mynmaatskappy Sibanye-Stillwater en was ook voorheen ’n direkteur van die Suid-Afrikaanse Brouerye.

Sy ouers het groot waarde aan opvoeding geheg en al was daar nie geld vir naskoolse studie nie, het ’n priester hom gehelp om vir ’n sekretariële kursus in te skryf en hy het deeltyds studeer om ’n graad te verwerf. 

Maphai het sedertdien ’n hele rits akademiese kwalifikasies behaal en was op 38 reeds ’n medeprofessor aan die Universiteit van Wes-Kaapland. In die buiteland het hy navorsing aan Oxford, Harvard, Stanford en Princeton gedoen en plaaslik het hy ook in verskeie universiteitsrade gedien.

Maphai ontvang sy toga. Foto: Skermgreep SUT Facebook-stroom.

In haar verwelkomingsrede het vise-kanselier en rektor, prof. Pamela Dube, gesê sy is vol vertroue dat Maphai ’n wesenlike impak op die universiteit se groei en ontwikkeling sal hê. “Ons is verheug om jou as die leier van die universiteit te verwelkom en uiters opgewonde oor die jare saam wat voorlê.”

Maphai het luide applous tydens sy toespraak ontvang en nie weggeskram van tammeletjies wat hoër onderwys tans ervaar nie.

“Die primêre funksie van ’n universiteit is onderrig en navorsing. Die tweede funksie is om ’n addisionele belangrike rol in die samelewing te speel, en die derde een, wat ons dikwels vergeet, is dat die samelewing van ’n universiteit verwag om leiers te produseer.”

Hy glo SUT moet ’n eensgesinde universiteit bou met institusionele kernwaardes wat vooroordele oorskry sodat almal daarop kan inkoop.

“Ons moet leer van sport en Suid-Afrikaners se houding teenoor sport. Wanneer die span nie presteer nie, dank ons die afrigter af Ons dring dus aan op gehalte. Ek het nog nooit iemand gehoor wat sê ek wil die swakste moontlike kwaliteit vir enigiets hê nie.”

Maphai het ook die studenteraad en vakbonde gepols oor die motiverings vir hul protesaksies.  “Op my eerste dag hier, toe ek vir oriëntering kom, kon ek nie binnekom nie. Die hek was versper. Ek het eintlik gedink dit was ’n erewag vir my,” skerts hy.

“Daar is niks fout daarmee om jul kwessies te opper nie. Ek onthou egter geen optog wat om uitnemendheid in onderwys gegaan het nie. Watter soort land is ons waar ons skeidsregters aanval, maar wanneer iemand onderwys vernietig, doen ons niks? Ek sal selfs by julle aansluit, mits die betoging uitstekende onderwys eis.”

Maphai lê sy eed af. Foto: Skermgreep SUT Facebook-stroom.

Verder is die belangrikheid van opvoeders ook uitgelig.  “Ons onthou elke goeie onderwyser en elke slegte onderwyser. Hoekom is dit die geval? Dit is omdat onderwysers een eienskap met God deel. 

“Hulle kan studente maak of breek met ’n enkele woord. Toe God gesê het: ‘Laat daar lig wees,’ was daar lig. En wanneer ’n onderwyser vir ’n student sê: ‘Jy is ’n idioot,’ word daardie student presies dit. Dit is die krag van onderwysers.”

Maphai het die hoop uitgespreek dat die SUT se dosente slegs op die gehalte van hul onderrigvermoë takseer sal word en dat hulle toegewyd sal wees om studente op te bou, nie te vernietig nie.

Hy het afgesluit met ’n uitnodiging aan die burgerlike samelewing om in te tree en die land te help herbou. “Die skep van ’n nuwe Suid-Afrika sal nie deur Onbevlekte Ontvangenis kom nie. Ons moet doelbewus daardie agenda stel.”

Maphai glo die burgery het die nodige mense, hulpbronne en ’n platform wat ons reeds aanvaar het – die grondwet.

“Leierskap is nie ’n skoonheidskompetisie nie. Ons uitdaging vandag is om daardie hoogs gerespekteerde mense in die burgerlike samelewing te nader en te vra: Kan julle ons saambring om verby ons historiese en persoonlike vooroordele te kyk om ons land weer op te bou?”

OFM News mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.