On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

South Africa

Regstellende aksie: Groot deurbraak gemaak

───   12:08 Thu, 29 Jun 2023

Regstellende aksie: Groot deurbraak gemaak | News Article
Hierdie ooreenkoms beteken die einde van die gebruik van ras as enigste maatstaf vir indiensneming en bevordering. FOTO: Unsplash/Clay Banks

Daar is meer duidelikheid oor die toekomstige toepassing van regstellende aksie in Suid-Afrika ná maande lange bemiddeling tussen Solidariteit en die regering.

Die bemiddelingsproses het onder toesig van die Verenigde Nasies se Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) plaasgevind nadat Solidariteit ’n klag by die IAO teen die regering ingedien het. Die proses het nege maande geduur.

Hierdie ooreenkoms beteken die einde van die gebruik van ras as enigste maatstaf vir indiensneming en bevordering. Dit verwyder ook die swaard van aflegging wat oor die kop van minderhede gehang het, en dit beteken ook dat maatskappye nie meer onder dwang sal wees om aanstellings te moet maak wat nie aan hul spesifieke vaardigheidsbehoeftes voldoen nie.


Solidariteit sê die spanning tussen die gemeenskap en die regering het verhoog nadat die regering onlangs regulasies gepubliseer het wat verreikende gevolge vir minderhede kon inhou. In reaksie daarop het 29 organisasies 'n gesamentlike resolusie onderteken wat die druk op die regering verhoog het. Die ooreenkoms wat sedertdien bereik is, is beslis beïnvloed deur die krag van 'n gemeenskap wat saamstaan.

Niemand mag as gevolg van rasprogramme van maatskappye op enige wyse afgedank word nie; ras mag nie as enigste maatstaf gebruik word nie; vaardighede moet in ag geneem word; en regstellende aksie moet tydelik wees – dít is van die punte van die ooreenkoms. Dit is deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, en Thulas Nxesi, die minister van arbeid en indiensneming, onderteken.

Die ooreenkoms gaan nou as deel van die 2023-diensbillikheidsregulasies in die Staatskoerant gepubliseer word en die partye het ooreengekom dat dit 'n hofbevel gemaak word. Maatskappye sal dus verplig wees om dit toe te pas.

Ander punte bepaal daar mag geen absolute plafonne vir indiensneming of bevordering vir enige groep wees nie, en die inherente vereistes van 'n pos kan in ag geneem word vir aanstelling en bevordering.


Maatskappye kan ook hul ekonomiese posisie, personeelomset en vaardigheidstekorte as verweer aanvoer oor waarom hulle nie teikens bereik nie. Indien 'n maatskappy 'n redelike verweer aanvoer, sal daardie maatskappy nie boetes opgelê word of staatskontrakte verbeur nie.

Solidariteit het aangevoer dat Suid-Afrika konvensie 111 van die IAO oortree wat onder meer bepaal dat regstellende maatreëls buigbaar moet wees. Die IAO het destyds bevind dat die klag voldoen aan al die IAO se tegniese vereistes, dat dit op sig waarde meriete het en dat Solidariteit interne remedies uitgeput het. Die Solidariteit-klag het dus tot 'n verhoorproses oorgegaan en die eerste stap het vrywillige bemiddeling tussen die partye behels.

Dit is nie die einde van rasprogramme in Suid-Afrika nie, maar 'n belangrike deurbraak. 'n Stryd wat nog voorlê is om Eskom ter wille van almal in Suid-Afrika vry te kry van swart ekonomiese bemagtigingsreëls, wat volgend Solidariteit 'n rookskerm vir plundering geword het.

OFM Nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.