Central SA
Parlement gevra om nuwe raswet te debatteer, te stop─── 14:51 Tue, 13 Jun 2023
Die Kaapse Forum en Solidariteit, saam met gemeenskapsleiers, het vandag die parlement in Kaapstad gepetisioneer oor die nuwe raswet en -regulasies wat onlangs gepubliseer is.
Die groepe vra ’n spesiale parlementêre debat daaroor aan en dat die parlement ingryp en die wet stop. Volgens die petisie is die nuwe wet en regulasies ongrondwetlik en irrasioneel.
Groot ontwrigting
“Die regulasies wat gepubliseer is, het landwyd groot reaksie uitgelok. Die impak daarvan gaan groot ontwrigting in Suid-Afrika tot gevolg hê. Dit is suiwer ’n raswet wat die samelewing op grond van ras klassifiseer en manipuleer,” sê Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum.
Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, wys die regulasies wat die werklike bedoeling van die regering met die wet is. “Die gevolge van die wet wat deur die parlement aanvaar is, is duidelik. Dit regverdig nie net ’n parlementêre debat nie, maar maak dit noodsaaklik. Suid-Afrika sal wil hoor hoe die parlement hierdie soort sosiale manipulering kan regverdig. Noudat die bedoeling duidelik is en die ongrondwetlikheid in die regulasies sigbaar is, moet die parlement die regte ding doen en die wet en regulasies stop,” sê Hermann.
Regulasies kry teenstand
Dié aksie van Solidariteit en die Kaapse Forum spruit voort uit die resolusie wat die twee partye op 6 Junie saam met ongeveer 30 ander organisasies onderteken het en waarin hulle onderneem om die regulasies teen te staan.
Die twee organisasies is van mening dat die regering doelbewus besig is om die stemme van derduisende werknemers en werkgewers te onderdruk deurdat hulle nie voldoende tyd gegun word om insette oor die regulasies te lewer nie.
‘Absurde idee’
“Die regulasies vereis dat poste vir bruin werknemers met 25% en dié vir wit en Indiër werknemers met 66% verminder moet word. Die regulasies wil mense van hul lewensbestaan ontneem en dit op grond van velkleur. Dit is absurd om te dink dat enige persoon of onderneming dit goedsmoeds sal aanvaar,” sê Wyngaard.
“Die regering tree slegs in sy eie belang en volgens sy eie ideologie op. Hy misken die regte van minderhede en weier om ag te slaan op die ekonomiese impak van die regulasies. Deur hierdie petisie wil ons sien dat ’n debat oor die wet geopen word en ons wil aan daardie debat deelneem. Dit is tyd dat die regering besef dat sy verantwoordelikheid teenoor die ganse Suid-Afrika is en nie net sy kaders of sy potensiële kiesers nie. Solidariteit, die Kaapse Forum en ander gemeenskapsleiers staan saam om die regering juis hieraan te herinner en tot verantwoording te roep. Hierdie rassediskriminasie sal nie geduld word nie,” sê Hermann.
Solidariteit/Kaapse Forum-verklaring
