Agriculture
Landbounuus: Ondernemings aktief in verskeie provinsies moet voldoen aan indiensnemingsregulasies─── ELSABÉ RICHARD 15:00 Tue, 13 Jun 2023
Enige landbou-onderneming wat aktief is in meer as een provinsie, sal outomaties moet voldoen aan die voorgestelde indiensnemingsregulasies ingevolge die nuwe raswet.
Kaapse Forum het Maandag tydens die bekendmaking van Solidariteit Navorsingseenheid se verslag oor die uitwerking van die regulasies, gesê slegs ondernemings wat primêr werksaam is in een provinsie, kan kies of hulle die provinsiale of nasionale teikens wil toepas. Kaapse Forum uitvoerende hoof Heindrich Wyngaardt sê bruin werknemers in die Wes-Kaapse landbousektor sal minder gemaak moet word, terwyl talle bruin vroue in dié provinsie vervang sal moet word. Hy sê die data wys teoreties moet daar meer bruin werkers in die Wes-Kaap wees, maar dis oëverblindery.
Suid-Afrika kan moontlik sy African Growth and Opportunity Act-handelsooreenkoms met Amerika verloor. Die bewerings verlede maand dat Suid-Afrika glo wapens aan Rusland verskaf het, het tot wydverspreide kommer gelei. Kragtens dié ooreenkoms kan lande soos Suid-Afrika produkte tariefvry uitvoer na die VSA.
Die Noordwes Landboudepartement is trots op die net meer as 60 studente wat onlangs afstudeer het aan die Taung Landboukollege. LUR Desbo Mohono sê hulle kan nou die land help om meer voedsel te produseer deur boere te word.
Die opening van die Wingerd-akademie en Modelplaas by Kakamas kan landbou-onderwys help omvorm. Noord-Kaapse LUR vir Landbou, Mase Manopole, sê leerders sal waardevolle kennis en vaardighede opdoen in die produksie van hoë gehalte-druiwe vir binnelandse én buitelandse markte.
EN
Die SA Rietkwekersvereniging het fase drie van sy Home Sweet Home-veldtog van stapel gestuur. Dis vir die eerste keer in 2020 bekendgestel om verbruikers oor die sektor op te voed, en hulle aan te moedig om plaaslik vervaardigde suiker te koop. Die vereniging sê die veldtog is 'n simbool van hoop vir die toekoms van 'n bedryf in ’n ernstige krisis en die een miljoen werkers en hul gesinne wat daarvan afhanklik is.
