On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

‘Gestaakte leeuteling kan einde van spesie beteken’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:21 Tue, 16 Apr 2024

‘Gestaakte leeuteling kan einde van spesie beteken’ | News Article
Foto Wallpaper Cave

“Dieselfde departement wat nou alles wil toemaak, het in die vorige jaar oor die 480 jagpermitte vir leeus uitgereik.”

Die regering se onlangse aankondiging om leeuteling vir jagdoeleindes op te skort, dui op ’n beduidende verskuiwing in wildbestuurbeleid.

Die besluit, geneem in reaksie op toenemende druk van bewarings- en diereregtegroepe, is die gevolg van ’n deeglike oorsig deur ’n paneel wat in 2021 gestig is. Die paneel se doelwit was om ’n verband te tref tussen trofeejag en die etiese en omgewingskwessies ten opsigte van die teel van leeus in gevangenskap.

Die paneel, bestaande uit verskeie deskundiges, se taak was om die uitwerking van leeuteling op biodiversiteit, natuurlewewelsyn en toerisme in Suid-Afrika te evalueer.

Hierdie besluit hou egter uitdagings in vir onderneming soos die Felidae Centre, sowat 30 km buite Kimberley. Die sentrum, wat al langer as ’n dekade bedryf word, huisves verskeie katspesies, waaronder 16 leeus, wat as ’n groot toeristeaantreklikheid dien.

Die potensiële verbod op leeuteling sal hul besigheid aansienlik beïnvloed, wat moontlik tot sluiting oor ’n paar jaar sal lei, sê Chrizanne Burger, een van die eienaars. Sy beklemtoon egter dat hulle heftig daarteen gekant is dat leeus vir jagdoeleindes of teling gebruik word.

Burger sê hulle probeer nie om met die leeus wat hulle tans het te teel nie, en dat al die leeus wat daar is op voorbehoeding is. Tog kan die besluit ’n groot geldelike uitwerking op hulle hê omdat dit klaar ongeveer R6 000 elke 15 maande kos om die leeus op die voorbehoedmiddel te hou.

Die sterilisering van leeus, net vir die medikasie en om die veearts daar te kry, sal hulle meer as R100 000 uit die sak jaag. Dit is sonder die mediese prosedure.

Sou die minister die leeubedryf totaal toemaak, sal die gevolge wees dat ons hele leeuspesie, wat een van ons ikoonspesies in Suid-Afrika is en baie belangrik vir toerisme is, gaan verloor, sê Hannes Wessels, voorsitter van die roofdiereenaarsvereniging Sapa.

“Dit is absoluut kritiek dat ons die leeus aan die gang hou. Die rede waarom hulle dit wil stop, is baie eenvoudig. Hulle het nie die kapasiteit om dit te reguleer nie omdat dit in al ons provinsies ’n gespook is om permitte reg te kry.”

Wessels sê ook die bedryf is in die toestand waarin dit is weens geen regulering wat plaasgevind het deur die betrokke departement nie. “As jy na eenvoudige goed kyk, soos die Non-Detriment Findings (NDF) wat al in 2016 gedoen is, het die department opdrag gekry om norms en standaarde vir die aanhou van leeus te publiseer, en dit is steeds nie gedoen nie. Nog net Sapa en die Franchise Association of South Africa (FASA) het dit gedoen.

“Volgens die paneel berokken dit Suid-Afrika se beeld in die buiteland skade, maar elke bedryf het sy nadele.”

Wessels sê indien ’n mens Brand South Africa kontak en vir hulle vra of daar enigsins ’n probleem met die leeus is, is die antwoorde nee, maar wel met moord, korrupsie en ’n regering wat disfunksioneel is.

“Dit is wat ons land se beeld seermaak; die leeus het niks daarmee te doen nie. Inteendeel, die leeus lewer ’n baie belangrike en positiewe bydrae tot die bruto binnelandse produk van ons land.”


Wessels verduidelik dat hoewel die minister die dokument gepubliseer het, moet dit nou eers deur die Staatskoerant gaan, en dan is daar 180 dae vir goedkeuring. Hulle is egter reeds besig met planne, “want dit is absoluut noodsaaklik dat die leeubedryf gered word vir die behoud van die spesie”.

Dis noodsaaklik dat die privaat sektor saam met die regering werk sodat die leeubedryf in die toekoms korrek funksioneer in plaas van dat dit eenvoudig toemaak. “Dan word daar glad nie in belang van die leeus opgetree nie. Dieselfde departement wat nou alles wil toemaak, het in die vorige jaar oor die 480 jagpermitte vir leeus uitgereik.”

Volgens Wessels is daar ongeveer 3 800 vrylopende leeus in ons nasionale parke en wildtuine. As die teelmannetjies uitgeskiet of uitgejag word, sal daar binne net ’n jaar meer jagpermitte as mannetjies wees.

“Die hele jagbedryf in Suid-Afrika verdien baie vir die BBP; so dit maak dit glad nie sin dat hulle hierdie bedryf wil stop nie. Die totaal van die jagbedryf se waardeketting beloop ongeveer R60 miljard.

“Die vraag is egter, as ons die leeus verloor, wat is volgende? Wat gaan die buitelandse toeris lok as ons nie meer dié ikoniese spesie het nie?”

Die dokument wat nou gepubliseer is, gaan spesifiek oor die leeus, renosters, olifante, en die luiperds, die sogenaamde Groot Vyf. “Daar is mense wat die leeubedryf seermaak, maar dis hoekom ons saam met die regering wil werk om die bedryf skoon te kry. Dan kan ons die spesie red.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.