On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agri Hour

Leeuboere moet deel wees van telersgenootskap

───   05:00 Mon, 18 Oct 2021

Leeuboere moet deel wees van telersgenootskap | News Article

Dis belangrik dat alle leeuboere in Suid-Afrika deel moet wees van ‘n leeutelersgenootskap.

Dit is volgens André Mentz, president van die Suid-Afrikaanse Roofdiervereniging, oftewel SAPA. 

Mentz sê deur ‘n lid van so ‘n organisasie te word, verseker dit dat boere van behoorlike riglyne, reëls en regulasies voorsien word, wat belangrik vir die bedryf is. 

Sien onderstaande PODCAST

“SAPA is 'n leeutelersvereniging wat hoofsaaklik oorheers word deur lede wat met leeus boer. Die organisasie is gestig in 2009 ná die geblikte leeu hofsaak, deur die leeuboere wat betrokke was by die saak en gevoel het dat hulle 'n organisasie moes hê, want daar was nie so iets nie. Ons bestaan tans uit 50 lede met 'n behoorlike grondwet, uitstekende reëls en regulasies, en dan ook 'n akkreditasiespan wat saamgestel is om die leeuboere behoorlik by te staan en toe te sien dat die bedryf reg bestuur word,” sê Mentz.

Hy voeg by dat SAPA ook saam met natuurbewaring werk  en dat hulle ook graag met die regering wil saamwerk, waar hulle dan ook aanbevelings aan Minister Barbara Creecy gemaak het dat enige persoon wat met leeus boer, 'n lid van' n organisasie soos SAPA moet wees.

Hy verduidelik verder dat die hoofdoel van so 'n organisasie is om die bedryf te reguleer en van die ongure karakters ontslae te raak. “Want jy kry maar in menige bedryf mense wat snaakse dinge aanvang en ons wil dit probeer, in samewerking met die regering, polisieer. Die regering het nie die mannekrag om dit behoorlik te doen nie en kan nie by alles uitkom nie en dan help ons ook met die bemarking en versorging van diere,” voeg Mentz by.

“SAPA help leeuboere om te voldoen aan die reëls en regulasies wat daar gestel is vir die aanhou en teël van leeus op 'n behoorlike wyse deur hulle te akkrediteer, as hulle nie geakkrediteer is nie, kan hulle nie 'n lid van ons organisasie word nie. Lede word elke drie jaar gemonitor om te kyk of hulle nog op standaard is. Ons kyk na die genetika van die diere, die versorging van die diere, veral die welsyn van die diere is baie belangrik, en dan nog ook die bemarking van die diere. SAPA hou gereeld bestuursvergaderings, waar verskeie punte bespreek word en inligting word dan deurgegee aan die leeuboere,” sê Mentz.

Hy sê indien enige ander leeutelers wil deel wees van die vereniging, mag hulle aansluit want hulle spasie is onbeperk.

“Ons is ongeveer 150 leeutelers in Suid-Afrika, volgens die inligting wat ons gekry het van Natuurbewaring, met ‘n totaal van 7 550 leeus. Om 'n lid te word van SAPA kan ons kantoor geskakel word by 083 616 8104 of mense kan ons webtuiste by sapredators.co.za besoek en daar kan hulle 'n aansoekvorm aanlyn invul. Moontlike lede sal dan gekontak word en meer inligting sal vereis word, asook 'n besoek van 'n akkreditasiespan van SAPA,” sê Mentz.

Hy beklemtoon die belangrikheid dat alle leeuboere moet lid wees van' n telersvennootskap, wat behoorlike riglyne kan verskaf aan die bedryf.

Mentz vertel meer oor hoe groot leeuboerdery in Suid-Afrika is en hoekom dit so groot is deur te sê dat “die jagbedryf baie oorsese toeriste na SA bring, wat dan ook tyd en geld hier in ons land bestee. Die waardeketting van die bedryf is baie groter as wat ‘n mens dink en dit verskaf dan so werk aan duisende mense”.

Mentz gee insig oor hoe Covid-19 die bedryf beïnvloed het, deur dit sê: “Dit gaan maar beroerd, ons kwotas met die uitvoer van byprodukte, soos die leeus se geraamtes nadat hulle gejag is, is vir die afgelope drie jaar nie toegestaan nie, so dit gaan maar moeilik in die bedryf. Die leeuboere kry swaar, want dit kos nogal redelik duur om op 'n hoë vlak die diere te teël. Dit kos jou in die omgewing van ' n R1000 per leeu per maand om hom aan te hou, so, ons het geen inkomste wat dit aanbetref nie. Ons leeus se waardes het met 200% geval. So, dit gaan maar moeilik in dié stadium. Ons wil nie die [genetiese navorsing] wat daar is, laat gaan nie, want dit het jare gevat om op die vlak te kom waar ons nou is.”



OFM-nuus/Lee Simmons


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.