Entertainment Now
Oudisies vir ‘Pleisters vir die Dooies’ in Bloemfontein─── 10:42 Tue, 12 Apr 2016

Akteurs en dramastudente kan hulle vandeesweek aanmeld vir oudisies vir die toneelstukPleisters vir die Dooies wat op die Vrystaat Kunstefees (12 tot 16 Julie) opgevoer word.
Dié teks deur die Bloemfonteinse skrywer Fanie Viljoen word vir die verhoog verwerk nadat Hennie van Greunen en Nico Scheepers se voorlegging vir ’n stewige borgskap suksesvol was. Dit is vanweë “die verbeeldingryke en vernuwende idees” gekies.
Van Greunen, bekend om sy vertaling en verwerking van treffertekste, sal Pleisters vir die verhoog aanpas en Scheepers (Amper, Vrystaat) sal regisseer.
Die hoofrol is toegeken aan die oud-Kovsie Wilhelm van der Walt, maar daar is nog verskeie ander rolle wat gevul moet word.
Pleisters gaan oor die naamlose hoofkarakter wat in so ’n mate deur woede en haat gedryf word dat hy gedagtes van ’n massaslagting koester. Sy ontstellende verlede ontvou terwyl hy na die skool beweeg waar hy uiting aan sy intense frustrasies wil gee.
Dit is ’n plekspesifieke werk en sal heel moontlik op ’n skoolterrein afspeel.
Die oudisies is oop vir enigeen.
“Geslag, ras, taal en ouderdom is irrelevant. Net talent tel,” sê Van Greunen. Kontak hom by henniewtf@mweb.co.za vir ’n tydgleuf en die teks.
Oudisies vind Woensdag van 08:00 tot 11:00 in die Scaena-teater (UV-kampus) plaas. Akteurs moet van 4 tot 10 Julie vir repetisies beskikbaar wees.