On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Gerben and Anny
Listen Live Streams

Central SA

Christiana-gesin verloor alles in huisbrand

───   13:22 Wed, 26 Jun 2019

Christiana-gesin verloor alles in huisbrand | News Article

Die Deetlefs-gesin van Christiana in die Noordwes het Maandagaand al hulle besittings verloor toe die huis wat hulle gehuur het, afgebrand het.


Joe Deetlefs het omstreeks 10:50 die aand wakker geword weens die huis se alarm wat afgegaan het. In daardie oomblik het hy ’n venster hoor breek en vermoed iemand is besig om in te breek. Hy het kombuis toe gehardloop om te kyk wat aangaan, maar is deur vlamme by sy voordeur begroet. 

“Ek het my vrou, Stephney, gaan wakker maak. Sy het ons vyf maande oue babadogtertjie gegryp en ons is by die huis uit.”

“Ons het drie Yorkie-honde, maar kon net twee kry op pad uit die huis uit, so toe ek weet my vrou en kind is veilig, het ek terugehardloop op soek na ons derde hond. Ek kon hom nie kry nie,” verduidelik Joe.

Hy sê dit was ’n kwessie van 10 of 15 minute toe is alles verby. “Die oomblik toe die oregon pine-plafonne vlamvat, toe is alle kanse wat ons gehad het verby. In daardie stadium het ek geweet ons gaan alles verloor.”

Die polisie in Christiana het die voorval bevestig.

Joe en Stephney se ouer dogter (19) woon op Jan Kempdorp en het dadelik deurgery toe sy die nuus ontvang. “Ons gaan vir eers by haar woon in haar bachelors flat totdat ons ander reëlings kan tref. Al wat ons oor het, is die klere aan ons lywe. Ons het nie versekering gehad nie en het alles verloor.”

“My hart is baie seer. Ons weet nou nog nie wat die oorsaak van die brand was nie. Ek dink nie die realiteit het al ingesink nie. Wanneer ek dink daaraan, huil ek nog, maar die gemeenskap probeer ons vreeslik baie help. Baie mense het al gebel om te hoor hoe hulle ons kan help en wat ons nodig het. Ons waardeer dit ontsettend baie,” sê hy.

Indien iemand die Deetlefs-gesin kan bystaan met klere of enige ander benodigdhede, kan hulle Joe by 082-569-5084 kontak.


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.