Central SA
Vrouebeskermingsbeweging protesteer in swart─── 11:46 Mon, 12 Aug 2019
Die Dare to Care-beweging in Keimoes, wat hulle toespits op die beskerming van die regte van vroue en kinders, se stigter Esmeralda McKay sê hulle is vandag in swart geklee uit stille protes teen geweld teen vroue landwyd.
McKay sê die aksie is die naweek begin en meer as 25 000 vroue landwyd het daarby aangesluit om hulle stemme uit te bring teen die voorvalle van geweld teen vroue en kinders.
McKay, wat baanbrekerswerk ten bate van die beskerming van menseregte doen, veral dié van vroue en kinders in die Upington-omgewing, sê te veel geld word deur bewusmakingsveldtogte vermors terwyl geweld teen vroue en kinders steeds ongesteurd voortduur.
Sy sê die samelewing se houding teenoor vroue en kinders behoort in alle erns aangespreek te word. Die beweging doen ‘n beroep op vroue om nie enigsins verder te swyg oor enige vorm van geweld of mishandeling nie.
OFM-nuus/Roderick Titus
