Central SA
Verlore polisie-vuurwapen- en ammunisie-syfers skokkend─── 07:40 Tue, 13 Aug 2019
Die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald, het in die Parlement aan die Minister van Polisie, Bheki Cele, ‘n vraag gevra wat ‘n skokkende antwoord tot gevolg gehad het.
Groenewald wou weet hoeveel wapens en ammunisie, wat in polisiebesit was, is in elke afsonderlike provinsie in die afgelope ses jaar verloor of gesteel. Cele het bekend gemaak dat die Oos-Kaap die hoogste gesteelde en vermiste ammunisie het, met ‘n skokkende syfer van meer as 4,7 miljoen rondtes ammunisie. Die Vrystaat se syfer staan op 267 449, die Noord-Wes 2 781 367, en die Noord-Kaap 8 476.
Cele het aan Groenewald gesê die rede vir die hoë syfers in die Oos-Kaap en Noord-Wes is te wyte aan swak boekhouding en die nie-indiening van SAPD 39-vorms.
Die provinsie met die meeste wapens wat as verlore of gesteel aangemeld is oor ‘n tydperk van ses jaar, is KwaZulu-Natal met ‘n syfer van 1011. Die Vrystaat staan op 185, die Noord-Wes op 172 en die Noord-Kaap het die laagste syfer in al nege provinsies met net 53. Die afgelope ses jaar is altesaam 4 357 wapens landwyd as verlore of gesteel aangemeld.
In die boekjaar 2018/19 is altesaam 41 gesteelde en vermiste vuurwapens aan misdade gekoppel en ‘n totaal van 49 persone is suksesvol vervolg. Cele het ook verduidelik dat altesaam 26 SAPD-amptenare vervolg is vir nalatigheid of diefstal van vuurwapens en ammunisie.
In sy antwoord het Cele ‘n lys maatreëls bekend gemaak wat in werking gestel is om die diefstal en verlies van vuurwapens en ammunisie te bekamp. Die maatreëls sluit in die merking van alle vuurwapens van die SAPD deur middel van strepieskodering; die tweejaarlikse inspeksie en sertifisering van alle SAPD-vuurwapens en as enige lid betrokke is by kriminele aktiwiteite wat 'n vuurwapen van SAPD behels, word kriminele en departementele tugstappe teen so 'n lid geneem.
OFM-nuus/Elsabé Richard
