On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 The Music Man Mix with The Music Man
Listen Live Streams

Central SA

Optog teen misdaad en geweld teen vroue in Upington gehou

───   16:00 Fri, 16 Aug 2019

Optog teen misdaad en geweld teen vroue in Upington gehou | News Article
Foto: Roderick Titus

'n Optog teen misdaad en geweld teen vroue is Vrydag deur die strate van Rosedale in Upington gehou.


Met twee doodskiste, baniere en plakkate in die hand, het inwoners van dié gemeenskap opgeruk om hul misnoeë teen die vlaag van erge misdaad wat teen vroue hier gepleeg is te opper.

Volgens Esmeralda McKay, woordvoerder vir die departement regeringskommunikasie en inligtingstelsels, was die onlangse moord op 'n 14-jarige meisie, Esmerelda Isaks (14), die laaste strooi vir die inwoners van Upington.
Isaks se lyk is deur 'n inwoner wat hout bymekaargemaak het in 'n veld in Bellvue gevind. Sy het veelvuldige messteekwonde opgedoen.

Sy was die laaste keer voor haar verdwyning gesien toe sy Sondag nog 'n diens by die kerk bygewoon het.

Nog 'n voorval waar 'n 83-jarige vrou en geliefde inwoner, Katrina Bok, in Julie erg aangerand is het dié gemeenskap geweldig geskok. 

Lt. kol. Jacques September, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Bok het ná die aanranding glo haar spraak verloor en kon nie 'n verklaring aflê nie. Sy is kort daarna aan onverwante natuurlike oorsake dood, sê September.

Niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek 'n saak van ernstige aanranding.

Op 4 Augustus is 'n 32-jarige vrou en ma van sewe minderjarige kinders van Louisvale, sowat 20km buite Upington, na bewering deur haar man vermoor. Sy is volgens sers. Omphile Masegela, polisiewoordvoerder, met 'n voorwerp op haar kop geslaan. Sy het aan haar beserings beswyk.

Haar man sal op 20 Augustus in die hof in Upington verskyn. Die identiteit van die ouers kan nie bekend gemaak word nie om die identiteit van die minderjarige kinders te beskerm.

McKay sê inwoners van Upington en sy omliggende dorpe het met die protesaksie 'n versoekskrif aan die polisie oorhandig wat hulle versoek vervat om sigbare polisiëring op te skerp, dwelmhandelaars hok te slaan en die veiligheid van vroue en kinders te verbeter.

McKay sê die protesaksies wat Donderdag by die hof in Athlone in die Kaap plaasgevind het, was ook 'n aansporing vir die aksie in Upington. Vroue van die beweging, SA Women Fight Back, het Donderdag 'n protesaksie teen 'n aansoek om borgtog vir beskuldigdes in die moord op Meghan Cremer gedryf.

Desmond Groenewald, projekbestuurder van die Bure-help-bure-projek in Upington, wat hulle ook by die optog geskaar het, sê dit is tyd dat die gemeenskap self verantwoordelikheid neem en saamstaan teen geweld en wetteloosheid.

Die inwoners het hul aksie afgesluit deur hul baniere en plakkate in twee doodskiste te begrawe.


"Dit is 'n simbool dat ons nou die euwels in ons samelewing vir altyd gaan begrawe en saamstaan om hierdie dinge hok te slaan," het McKay aan die omstanders gesê.


OFM-nuus/Roderick Titus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.