Central SA
Sonplaas-werkers staak weer─── 10:35 Tue, 27 Aug 2019
Werkers van die Ilanga-sonkragaanleg by Leerkrans buite Upington in die Noord-Kaap, staak weer weens ontevredenheid oor salarisse en voordele soos behuising en aanstellings.
Die vakbond Numsa en die werkgewers is volgens inligting tans agter toe deure in gesprek om ‘n oplossing vir die staking, wat volgens die vakbond wettig is, te probeer vind.
Werkers by die aanleg sê die werkgewer dra nie hulle belange op sy hart nie en weier volstrek om aan werkers se eise te voldoen, wat hulle dwing om te staak. Volgens een van die werkers wat anoniem wil bly weens moontlike intimidasie, het hulle reeds agt maande gelede hulle ontevredenheid te kenne gegee met die manier waarop hulle werkgewer op werkers se probleme reageer, sonder enige oplossing.
Die staking beïnvloed egter nie die nasionale pad nie en die polisie is op die toneel. Meer as 100 stakers is buite die sonplaas sigbaar. Motoriste word gemaan om op die uitkyk te wees wanneer hulle tussen Upington en Groblershoop reis.
OFM-nuus/Roderick Titus
