Central SA
NK-fietsryers samel geld in vir mediese behandeling─── 14:45 Thu, 26 Sep 2019
Vier passievolle fietsryers van Hartswater in die Noord-Kaap het gister hul rit vanaf Hartswater na Strandfontein voltooi in samewerking met die nie-winsgewende organisasie Skema 2 Sea en Round Table Hartswater 186.
Heinie Naudé (24), Cobus Kok (20), Ruan Pietersen (31), en William White (40) het reeds op 18 September die reis aangepak en sowat 1100 km afgelê.
Pietersen het aan OFM-nuus gesê die inisiatief om geld in te samel vir drie Hartswater-inwoners het begin toe hy en White besluit het om hulle jaarlikse verlof te neem en saam met hulle families see toe te ry met hul fietse.
Volgens Pietersen het hulle beoog om R120 000 in te samel. “Die mense se goedhartigheid was ongelooflik en ons staan alreeds op R150 000,” het hy vertel. Die geld wat deur hierdie inisiatief ingesamel word, sal gelykop tussen die drie begunstigdes verdeel word vir terapie, mediese behandeling en medikasie.
Die begunstigdes sluit in die vier-jarige Christiaan Miljo, wat met Russel Silver-sindroom gediagnoseer is en tans groeihormone ontvang om die risiko van hipoglisemie te voorkom, sowel as om te help met normale liggaamsgroei. Die vyfjarige Henry Smith is normaal gebore maar nadat hy varkgriep opgedoen het, is hy gediagnoseer met serebrale verlamming of Cerebral Palsey. Hy kry fisioterapie. Die drie-en-dertigjarige Bradley Augustin, wat 'n traumatiese breinbesering opgedoen het en tans in ‘n rolstoel is, sal met die nodige behandeling weer kan loop.
Vir enige verdere inligting oor hierdie inisiatief, besoek Roundtable Hartz 186 se Facebookblad (Skema 2 Sea).
OFM-nuus/Elsabé Richard
