On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Ondoeltreffende munisipale rekeningstelsel lei tot ‘afpersing’ - VS LP

───   13:52 Fri, 04 Oct 2019

Ondoeltreffende munisipale rekeningstelsel lei tot ‘afpersing’ - VS LP | News Article

Die onlangse ondersoek van die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit deur die Vrystaatse DA-wetgewerlid, Leona Kleynhans, het bewys dat alhoewel inwoners van die munisipaliteit hul munisipale rekeninge wil betaal, die stelsel nie in werking is nie.


Kleynhans het haar ondersoek op video opgeneem om te bewys dat ná talle probeerslae om haar rekening te betaal of om navrae te doen oor hoeveel sy skuld, die poging onsuksesvol was.

Kleynhans sê dit kom nadat amptenare van die munisipaliteit onlangs 100 ondernemings in Harrismith besoek het, waar hulle gedreig is dat elektrisiteit onmiddellik afgesny sal word indien rekeninge nie onmiddellik betaal word nie. Kleynhans sê dit kom neer op afpersing aangesien geen behoorlike rekords gelewer is as bewys van wat verskuldig is nie.

Sy meen dat dit belaglik is dat amptenare inwoners waarsku om rekeninge te betaal terwyl 'n doeltreffende rekeningstelsel by die munisipaliteit afwesig is. Kleynhans het bygevoeg dat talle openbare vergaderings deur die munisipaliteit gehou is, waar verbruikers aangemoedig is om hul rekeninge te betaal.

Sy het aan OFM-nuus vertel dat die munisipaliteit in Februarie 2018 onder administrasie geplaas is en meen daar was nog geen verbeterings nie. Kleynhans het verder verduidelik dat die munisipaliteit sowat twee maande gelede onder nasionale en provinsiale administrasie geplaas is waar ‘n nuwe administrasiespan oënskynlik deur die natiosnale tesourie aangestel is. Sy erken dat die munisipaliteit probeer om geld terug te kry vanaf die inwoners, maar pleit dat 'n ander benadering gebruik moet word, en nie mense dreig om rekeninge te betaal sonder ‘n bewys nie.

Volgens Kleynhans is hierdie nóg ‘n simptoom van die munisipaliteit wat in duie gestort het. Sy sê inwoners van Harrismith het gevolglik inisiatief geneem om self die water toevoer te beheer en die riool en vullis te verwyder.

“Die munisipaliteit moet sy stelsels in orde kry sodat hulle wetlike rekeninge kan uitstuur en diegene opvolg wat nie betaal nie,” het sy afgesluit.


OFM-nuus/Elsabé Richard

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.