Central SA
Forum in De Aar veg om HOP-huise terug te eis─── 15:22 Tue, 22 Oct 2019
Sowat 90 HOP-huise in De Aar in die Noord-Kaap word tans as kruidenierswinkels deur buitelandse burgers gebruik.
Dit is volgens Raymond Addams, lid van die Emthanjeni Munisipale Forum, wat aan OFM-nuus gesê het dat die forum tot dusver daarin geslaag het om vyf van hierdie winkels te sluit.
Dit kom nadat die forum vroeër vandeesmaand ‘n sewe-dae ontruimingskennisgewing uitgestuur het aan buitelanders wat HOP-huise as winkels gebruik.
Addams sê die kennisgewing het ontstaan nadat dit onder hulle aandag gekom het dat buitelandse burgers nie kwalifiseer vir HOP-behuising nie, en dat hierdie huise bloot gebruik moet word vir residensiële doeleindes deur Suid-Afrikaners.
Addams sê ook die gemeenskap is ontsteld oor die feit dat buitelanders jong kinders verlei en mislei en selfs dwelms vanuit dié winkels verkoop.
Hy sê die forum werk met verskeie belanghebbendes, soos die plaaslike polisie, munisipaliteit en ‘n gesondheidsinspekteur waar hulle na elke winkel gaan om ondersoek in te stel.
OFM-nuus/Elsabé Richards
