Central SA
#Bloodhound-spoedtoetse begin in NK─── 17:25 Wed, 23 Oct 2019
Die wêreld se vinnigste motor het na verwagting vandag die Hakskeenpan-woestynrenbaan in die Noord-Kaap ingevaar, met die doel om geleidelik oor die volgende paar weke ‘n skokkende spoed van 800kmp/u te bereik.
Die debuut van die Bloodhound Supersonic-motor het talle mense regoor die wêreld opgewonde, aangesien die span se eintlike doel is om volgende jaar ‘n rekord van 1 600km p/u te bereik. Die hoësnelheidstoetsing word uitgevoer met behulp van die motor se Rolls-Royce EJ200-enjins, wat normaalweg in 'n Eurofighter Typhoon aangetref word.
Die uitvoerende hoof van dié besonderse projek, Ian Warhurst, het aan OFM-nuus gesê dat die projek verskeie uitdagings ervaar het. Hy sê hy het in Desember verlede jaar betrokke geraak by die projek toe die maatskappy finansiële probleme ondervind het.
Warhurst het ook verduidelik dat die belangrikste deel van die projek is hoe dit bewerkstellig is. Hy sê baie mense dink dit gaan net oor die spoed. Hy dring daarop aan dat die passie van die projek is om talle skoolkinders en mense wat betrokke wil raak by ingeneiurswese, te inspireer.
Warhurst sê die toetslopie is om te sien of alles korrek werk om te verseker dat die kar nie probleme ervaar wanneer dit tot stilstand moet kom nie. Hy sê die span sal ook uitkyk vir enige vibrasies wat mag ontstaan gedurende die spoedtoetsing.
OFM-nuus het voorheen berig dat dié projek werk geskep het vir sowat 600 inwoners in en om die Mier-munisipaliteit. Die Noord-Kaapse premier, Zamani Saul, het aan OFM-nuus gedeel dat hierdie inisiatief inpas by die provinsie se missie om die mekka van ekstreme sport en avontuur te word wat mense van regoor die wêreld kan lok na Suid-Afrika se grootste provinsie.
OFM-nuus/Elsabé Richard
