Central SA
Watertoevoer na Pelonomi-hospitaal herstel─── 12:27 Fri, 25 Oct 2019
Die watertoevoer na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein in die Vrystaat is suksesvol herstel.
Dit is volgens die woordvoerder vir die Departement van Gesondheid, Mondli Mvambo, wat aan OFM-nuus gesê het dat water gister herstel is en dat die hospitaal perfek funksioneer. Dit kom nadat daar vir twee dae nie water by die hospitaal was nie omdat dele van Mangaung probleme ondervind het wat die watertoevoer na die hospitaal beïnvloed het.
OFM-nuus het voorheen berig dat volgens Mvambo, die hospitaal water in hulle reservoirs opgebruik het tydens die waterkrisis en dat die departement die Mangaung Metro Munisipaliteit sowel as Bloemwater genader het om die reservoirs te vul.
Die departement moes water koop om te verseker dat pasiënte hulle medikasie kan neem. Woordvoerder van die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit, Qondile Khedama, het gister aan OFM-nuus gesê dat daar 'n probleem met 'n klep of pomp was.
OFM-nuus/Elsabé Richard
