Central SA
Politieke party kritiseer VS-begroting─── 17:45 Wed, 27 Nov 2019
Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) in die Vrystaat is nie beïndruk met die goedkeuring van die Vrystaatse aansuiweringsbegroting gister in die Provinsiale Wetgewer nie.
VF Plus-lid van die Provinsiale Wetgewer, Devar Smit, het aan OFM-nuus gesê dat die kantoor van die premier Sisi Ntombela reeds einde Oktober vanjaar 221% van die oorspronklike begroting vir dié finansiële jaar bestee het. Hy sê ten spyte daarvan is die kantoor van die premier gister meer as R30 miljoen toegeken.
“Dit is vir die VF Plus ‘n groot bekommernis dat die kantoor van die premier miljoene rande uitgee, terwyl die mense van die Vrystaat honger ly en werkloos is,” sê Smit.
Hy het verder verduidelik dat die droogte in die provinsie hulle ook bekommer. Smit meen met die geld wat die departement van landbou ontvang het, is slegs 1,5% geoormerk vir rampbestuur wat die sink van boorgate insluit. Volgens Smit wys dié goedkeuring die ANC-regering se onkunde oor die omvang en impak van die droogte.
Die provinsie se aansuiweringsbegroting is reeds vroeër vandeesmaand deur die LUR van Finansies, Gadija Brown, bekend gemaak. OFM-nuus het voorheen berig dat Brown gedurende die begrotingsrede genoem het dat die departement sal fokus op beleggings in infrastruktuur met die potensiaal om die provinsiale ekonomie 'n hupstoot te gee en werksgeleenthede te skep. Sy het ook bevestig dat meer as R58 miljoen aan die verskillende departemente en sleutelprojekte herprioritiseer sal word.
OFM-nuus/Elsabé Richard
