Central SA
Vier Noordwes polisiebeamptes verskyn in hof─── DANE BEISHEIM 15:35 Fri, 24 Apr 2020
Die provinsiale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Noordwes, luitenant-generaal Sello Kwena, het die inhegtenisneming en die daaropvolgende hofverskyning van vier polisie-lede vandag in die Brits-landdroshof verwelkom.
Die hofverskyning van die beskuldigde het gevolg na hulle gister in Brits weens beweerde korrupsie en diefstal in hegtenis geneem is.
Die beskuldigdes het glo omstreeks 09:30 verlede week Saterdag 'n soektog in een van die winkels in die Oukasie Informele Nedersetting buite Brits, gedoen.
Volgens beskikbare inligting het die beskuldigdes onwettige sigarette gevind en daarop beslag gelê. Hulle het nog 'n soektog in die slaapkamer van die winkeleienaar gedoen voordat hulle die toneel verlaat het.
Die winkeleienaar het onmiddellik na die beskuldigdes vertrek het opgemerk dat sy kontant en selfoon ontbreek. Hy het die voorval by die polisie aangemeld.
Die beskuldigdes is uiteindelik deur die provinsiale eenheid vir teenkorrupsie (ACIU) gearresteer.
Volgens polisiewoordvoerder Sabata Mokgwabone is daar tydens die ondersoek gevind dat die sigarette waarop die beskuldigde tydens die soektog beslag gelê het, nie as bewysstukke by die polisiekantoor geregistreer is nie.
OFM-nuus
