Central SA
Dokters 'wil nie in platteland werk'─── 13:04 Thu, 07 May 2020
Die LUR vir Gesondheid in die Noord-Kaap, Mase Manopole, het haar kommer uitgespreek oor dokters wat huiwerig is om in die platteland te gaan werk.
Dié provinsie – waarvan die grootste bestaan uit die platteland - sukkel al vir jare met die tekort aan dokters en verpleegsters. Die kroniese tekort word nou vererger deur die coronavirus-pandemie. Manopole se uitspraak volg nadat die nasionale departement ook sy kommer oor die ontplooiing van dokters uitgespreek het.
Die nasionale departement het aangedui dat selfs dokters wat in Kuba met regeringsbeurse gestudeer het, is traag om na die platteland uit te wyk. Die Vereniging vir Landelike Dokters sê egter hulle hande is afgekap aangesien hulle nie dokters kan dwing om daar te gaan werk nie.
Dié vereniging sê dokters is nie gewillig nie as gevolg van die toestande waaronder hulle soms moet werk en ‘n tekort aan geriewe en mediese hulpmiddels. Die president van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, Glenda Gray, het egter gewaarsku dat ‘n toename in die getal Covid-19 gevalle in die volgende paar maande in die platteland verwag kan word.
OFM News/Roderick Titus
