Central SA
#CoronavirusNC: NK spog met verslag─── ELSABÉ RICHARD 18:30 Wed, 09 Sep 2020
Die Noord-Kaap het, landswyd, die mees samehangende verslag saamgestel rakende die verkryging van persoonlike beskermingstoerusting.
Dit is volgens die Premier van die Noord-Kaap, Zamani Saul, wat Woensdag tydens ‘n virtuele inligtingsessie onder meer ook die jongste Covid-19 syfers bekend gemaak het.
Saul het die versekering gegee dat dié provinsie se persoonlike beskermingstoerusting verkrygingsverslag, in vergelyking met ander provinsies se verslae, die mees samehangende is, aangesien die provinsie volledige inligting rakende Covid-19-verwante uitgawes beskikbaar gestel het.
Hy sê uit die verslag het daar bewerings van korrupsie na vore gekom, en na aanleiding hiervan het die provinsiale regering besluit om ‘n groep ouditeure aan te stel om dié bewerings te ondersoek.
Saul sê dié span ouditeure sal elk van die 175 maatskappye wat Covid-19 verkrygingskontrakte in die provinsie ontvang het, oudit. Hy sê die span sal kyk na die status van die maatskappy, die bedrag wat toegeken is aan die maatskappy, of die benodigde produkte afgelewer is en die kwaliteit van die produkte.
Hy sê diegene wat skuldig bevind word aan korrupsie sal aan wetstoepassingsagentskappe gerapporteer word, en staatsgeld moet so gou as moontlik terug versorg word.
Saul se aankondiging kom na aanleiding van mediaberigte dat hy 'n hand gehad het in die toekenning van multimiljoenrand-tenders aan twee van sy bondgenote.
Die premier het sedertdien 'n verklaring uitgereik waarin hy homself van Covid-19-korrupsiesake distansieer, en het verklaar dat daar skynbaar gepoog word om sy reputasie te beskadig.
OFM-nuus/Elsabé Richard
