Central SA
NK-man weens veediefstal in hegtenis geneem─── 15:26 Thu, 01 Oct 2020
'n Noord-Kapenaar is gister deur die Rietfontein-veediefstaleenheid in hegtenis geneem weens gesteelde skape wat in 'n voertuig en op 'n sleepwa gelaai is.
Die polisiewoordvoerder, Olebogeng Tawana, sê die 31-jarige man is naby 'n plaas aangekeer nadat die polisie 'n wenk ontvang het oor 'n verdagte wat in die veld gesien is waar hy skape laai. Die verdagte sal na verwagting binnekort in die Rietfontein-landdroshof verskyn op 'n aanklag van veediefstal.
Die polisie het die man in besit van 33 skape betrap, waaronder 11 lammers, ter waarde van R60 000. Die eienaar van die skape is na die toneel ontbied en het die skape en lammers positief geïdentifiseer.
OFM-nuus/Blaine Jones
