Central SA
NK skool se krag steeds af─── KATLEHO MORAPELA 09:06 Mon, 05 Oct 2020
Die Noord-Kaapse Departement van Onderwys gaan ondersoek instel oor hoekom een van sy skole steeds sonder elektrisiteit gelaat is, selfs ná sy ingryping.
OFM-nuus het vroeër berig dat Steinkopf Hoërskool en die koshuis al vir meer as 11 weke sonder krag gelaat is.
Eskom het dié skool se toevoer afgesny as gevolg van ‘n agterstallige rekening. Dit blyk dat pogings om ‘n betalingsooreenkoms aan te gaan deur Eskom afgekeur is.
Elsabé Richard berig alhoewel die departement verlede week ekstra fondse vir die betaling van die rekening beskikbaar gestel het, die skool steeds in donkerte gehul is.
Die woordvoerder van die provinsiale onderwysdepartement, Geoffrey van der Merwe, het die skool se kragkrisis bevestig en gesê koshuisleerders word die ergste geraak.
Sedert die nasionale inperking om die verspreiding van Covid-19 te voorkom, kon die skool nog nie sy deure vir al sy leerlinge open nie.
Altesaam 74 leerders word in die koshuis gehuisves. Die matrikulante wat wel teruggekeer het, is volgens Van der Merwe deur inwoners gehuisves.
OFM-nuus
