Central SA
Moeilike tye vir boere ná NW-veldbrand─── 12:53 Mon, 19 Oct 2020
Boere in Noordwes het die naweek groot verliese gely ná 'n wegholveldbrand tussen Schweizer-Reneke en Vryburg.
Jacques Taljaard, 'n OFM-luisteraar en boer wat op die toneel was, het die voorval verlede week by OFM aangemeld en bevestig dat die groot brand eindelik Sondag geblus is. Hoewel die boere die stryd gewen het, sal die skade wat die brand veroorsaak het, 'n langtermyn-invloed hê.
Taljaard sê die brand het 'n geweldige area verwoes, maar dit is in situasies soos dié wat hy die eensgesindheid tussen alle boere sien. Hy voeg by dat mense tussen 300 en 2000 hektaar tydens die brand verloor het. Boere het ook hul weiding verloor en sommige het alle besittings in die vuur verloor. Taljaard sê die hulp van buite was geweldig, met skenkings van mense om boere met hul verliese te help.
In 'n onderhoud met OFM het Taljaard gesê, “dit was 'n ervaring met al die emosies wat jy ervaar terwyl jy daar staan en die medemens sien wat sy weiding verloor, as ook om te sien hoe die ouens uitgeput is”. Hy se dit was 'n rowwe stryd maar hy dink hulle het dit gewen. Dit is in 'n situasie soos dié waar jy sien hoe boere saamstaan en mekaar se hande vat en mekaar begin help, voeg Taljaard by.
OFM News/ Blaine Jones
