Central SA
Dossier geopen ná raaisel oor #Pelonomi-liggaam─── CATHY DLODLO 05:51 Fri, 04 Dec 2020

Die polisie in Bloemfontein het ‘n dossier vir 'n nadoodse ondersoek geopen nadat die liggaam van ‘n pasiënt in ‘n staatshospitaal in vreemde omstandighede gevind is.
OFM-nuus het vroeër ekslusief berig dat die pasiënt in die Pelonomi-hospitaal se kelder gekry is. Dit nadat hy uit sy hospitaalbed – vermoedelik vir dae - vermis geraak het. Die woordvoerder van die Vrystaatse Gesondheidsdepartement, Mondli Mvambi, het die voorval bevestig.
Hy het in 'n antwoord op geskrewe vrae gesê aanduidings dat die kelder onder water was, is nie waar nie. Mvambi sê die water was slegs so diep soos 'n “skoensool”. Die water het vermoedelik as gevolg van ‘n lekkasie in die waterstelsel van die hospitaal in die kelder opgedam. Mvambi het egter gerugte ontken dat die pasiënt vermoedelik verdrink het.
Mvambi sê ‘n nadoodse ondersoek is gedoen en die oorsaak was nie verdrinking nie. Polisiewoordvoerder, Motantsi Makhele, sê by navrae die Mangaung-polisiekantore het op 15 Oktober 2020 op ‘n telefoniese klagte van die Pelonomi-hospitaal gereageer. Hy sê met die polisie se aankoms by die hospitaal, het ‘n veiligheidswag hulle na die kelder geneem, waar die liggaam gevind is. Makhele sê die 56-jarige manlike pasiënt was nog steeds in hospitaaldrag geklee.
Mvambi sê intussen het die hospitaal as ‘n veiligheidsmaatreël die hysbakke na die kelderverdieping gesluit. Dié hospitaal het oor verskeie boekjare hoofopskrifte gehaal nadat ‘n verslag deur die provinsiale kantoor van die Staatsdienskommissie bevind het dat die hospitaal gebuk gaan onder ‘n agterstand in instandhouding van die gebou en mediese toerusting en ‘n tekort aan mediese personeel. Mvambi sê die provinsiale gesondheidsdepartement het die familie van die oorledene in kennis gestel en reeds verskeie kere met hulle vergader.
OFM-nuus