Central SA
Kiekie-kompetisie kan BFN diere help─── 08:38 Mon, 21 Dec 2020
Die Naval Hill Natuurbewaringsgroep - in die algemeen bekend as “Vriende van Franklin” - is deur Andri Grobbelaar, ‘n PhD kandidaat in Dierkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, gestig.
Die algemene doel van hierdie publieke groep is om ‘n platvorm te bied aan enige natuurliefhebbers, wetenskaplikes, navorsers en besighede in Bloemfontein om saam met die Mangaung Natuurbewarings Dienste te werk vir die bewaring en bevordering van die wilds en natuurlewe van Naval Hill en die Franklin Natuurreservaat.
Om hiertoe by te dra, sê Grobbellaar "Vriende van Franklin" het onlangs ‘n fotografie kompetisie geloots. Enige professionele of amateur fotograwe kan deelneem en nege verskillende kategorieë is beskibaar.
Die inskrywingsfooi is R10.00 per kategorie en fooie word aangewend vir die koop van wildsvoeding vir die natuurlewe van die Franklin Natuurreservaat en om die genetiese en biodiversiteit van die ekosisteem uit te brei en bevorder.
Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 1 Maart 2021. Vir alle navrae, inskrywingsvorms, reëls en regulasies kan 'n e-pos na friendsoffranklin.bfn@gmail.com gestuur word.
Die idee om met só ‘n groep te begin het in 2019 ontstaan toe ‘n klein aantal inwoners van die woonbuurte aangrensend tot Naval Hill, met Mangaung Natuurbewaring Dienste gereël het om addisionele voeding vir die kameelperde en ander wild te bied, vertel Grobbelaar. Sy sê dit het duidelik geword dat ‘n groter publieke bydrae nog ekstra voordele vir die wilds- en natuurlewe van die Franklin Natuurreservaat sou inhou. Dus met die verdure verslapping van die grendeltyd-regulasies is “Vriende van Franklin” amptelik in September 2020 gestig.
OFM Nuus/Blaine Jones
