Central SA
Skole in VS en NK se asbesdakke kry aandag─── CATHY DLODLO 13:07 Sun, 27 Dec 2020
Skoolgaande kinders in die Vrystaat en Noord-Kaap is op die nasionale Departement van Basiese Onderwys se prioriteitslys vir die befondsing vir die vervanging van asbes dakke van hulle skole.
Die departement het op 'n geskrewe vraag in die parlement gesê dat meer as 1 000 skole – met die meerderheid in dié twee provinsies – landswyd ingesluit is in die begroting vir infrastruktuur in die volgende boekjare om die dakke van meer as ‘n duisend klaskamers te vervang.
Konstruksie by baie van die skole in die Vrystaat is geoormerk vir die 2021/22 boekjaar.
Primêre en Hoërskole in drie provinsies verskyn op die lys, en net nege van die skole is in Limpopo geleë. Volgens die berekening van die departement gaan die projek oor die drie provinsies oor sowat vier boekjare strek.
Dit is ook nog nie bekend hoeveel van die projekte wat vir die huidige boekjaar gelys was, voltooi is nie, nadat die Covid-19 nasionale inperking konstruksie vir verskeie maande gestaak het.
OFM-nuus
